Jeremia 8:2-8 DB

2 Hierdie bene sal hulle uitpak onder die son, die maan en die sterre. Toe hierdie geraamtes nog geleef het, het hulle mos die son, die maan en die sterre as gode liefgehad en moeite gedoen om hulle te vereer. Die bene van die mense van Jerusalem sal nie weer begrawe word nie, maar sal soos mis bo-op die grond bly lê.

3 Ek het die mense van hierdie bose nasie weggedryf na ander lande. Dié van hulle wat daar oorleef, sal verkies om liewer dood te wees as om te bly lewe. Dit is wat die Here sê wat sterker as alles en almal is!”

4 “Jeremia, gaan sê vir die mense wat Ek, die Here, sê: Is dit nie so dat as ’n mens val, staan jy weer op nie? Of as jy agterkom dat jy op die verkeerde pad is, dat jy terugdraai nie?

5 Vertel My, waarom hou hierdie mense aan om af te dwaal? Hoekom hou die mense van Jerusalem aan om My te bedrieg en weier hulle om na My toe terug te kom?

6 Ek het fyn geluister na hulle praatjies. Hulle praat nie die waarheid nie. Nie eens een van hulle is spyt oor die verkeerde dinge wat hulle doen nie. Niemand van hulle sê: ‘Watse verskriklike ding het ek aangevang!’ nie. Nee, hulle hou net aan voortstorm op hierdie verkeerde koers wat hulle gekies het, soos ’n perd wat in ’n geveg instorm.

7 Die trekvoëls, soos die ooievaar, die tortelduif, die swaeltjie en die kraanvoël, weet as dit tyd is om na ’n ander omgewing te vlieg. Elke jaar wanneer die seisoen verander, kom hulle terug. Maar dit is nie so met my volk nie,” sê die Here. “Hulle weet kastig nie wat Ek van hulle verwag nie!

8 “Hoe kan julle sê: ‘Ons het kennis, want ons het die voorskrifte van die Here’? Die skrywers wat hierdie voorskrifte neergeskryf het, het daaraan verander en dit verdraai.