15 Die Here is sterker as alles en almal. Hy is die God van Israel en Hy sê: “Kyk, Ek sal hulle bitter kruie gee om te eet en gif om te drink.
16 Ek sal hulle onder ’n klomp nasies versprei. Hulle sal vreemdelinge in hierdie lande wees, want nie hulle of hulle voorouers het hierdie nasies vroeër geken nie. Selfs daar sal hulle nie wegkom nie. Ek sal hulle vyande hulle laat agtervolg totdat daar net mooi niks van hulle oorbly nie.”
17 Die Here het ook gesê: “Dink ’n bietjie na oor wat aan die gang is. Roep al die mense wat gewoonlik by begrafnisse huil, bymekaar. Ook dié wat treurige liedere kan sing.
18 Hulle moet gou maak en met hulle gehuil begin. So sal hulle ons kan help om ook baie droewig te huil.
19 Uit Jerusalem kan ’n mens die desperate gehuil van die mense van die stad hoor. Hulle roep uit: ‘Dit is klaar met ons! Ons is tot die grond toe verneder! Ons is uit die land gedryf en ons huise is platgeslaan.’”
20 Die vroue van die land moet luister wat die Here te sê het. Hoor baie mooi wat Hy sê: “Julle moet julle dogters leer om hartseer te word. Verder moet die vroue mekaar leer om liedere te sing wat by dood en begrafnis sal pas.
21 En as hulle vra hoekom hierdie soort liedere geleer moet word, is die antwoord: ‘Die dood het deur die venster in ons huis ingekom. Daar is nie meer kinders wat in die strate kan speel of jongmense wat by die stadspleine bymekaar kan kom nie.’”