9 Behoort Ek hulle nie oor hierdie manier van dink en doen te straf nie?” vra die Here. “Ja, Ek sal wraak neem op hierdie nasie.”
10 “Ek huil omdat daar nie meer weiding vir die diere teen die hange van die berge is nie. Die ou weivelde lê ook verwaarloos en niemand gebruik dit meer nie. My hart is stukkend daaroor. ’n Mens hoor ook nie meer die beeste se gebulk nie. Selfs die voëls en die wilde diere het almal padgegee.”
11 Die Here sê: “Ek sal Jerusalem soos ’n bouval maak. Dit sal ’n plek wees waar die jakkalse graag sal lê. Die stede van Juda sal leegloop, want niemand sal meer daarin bly nie.”
12 Ek vra toe: “Is daar iemand wat genoeg insig het om te verstaan hoekom al hierdie dinge gebeur? Het U dit vir iemand gesê wat dit aan ander mense kan verduidelik? Hoekom is hierdie land so erg verwoes dat niemand dit eens wil waag om daardeur te gaan nie?”
13 Die Here het geantwoord: “Die stad lyk so omdat my mense nie my voorskrifte volg nie. Hulle het geweier om te lewe soos Ek gesê het hulle moet.
14 Om die waarheid te sê, hulle is hardkoppige mense wat net doen wat hulle wil. Hulle het gebuig voor die beelde van die god Baäl soos hulle by hulle voorouers geleer het.”
15 Die Here is sterker as alles en almal. Hy is die God van Israel en Hy sê: “Kyk, Ek sal hulle bitter kruie gee om te eet en gif om te drink.