14 Die Here het met sy hand die dinge wat ek verkeerd gedoen het soos ’n tou inmekaar- gevleg. Hy het dit soos ’n juk op my nek gesit. Ek het nie genoeg krag om dit te dra nie. Die Here het my oorgegee aan mense teen wie ek nie sterk genoeg is om te veg nie.
15 Die Here het al die sterk mans wat ek gehad het, met minagting weggewys. Hy het ’n weermag bymekaargemaak om my jongmanne te verslaan. Die Here het Juda stukkend getrap. Dit was soos druiwe wat jy met jou voete in die parskuip stukkend trap.
16 Trane loop uit my oë. Ek huil oor alles wat gebeur het. Daar is niemand by my wat my kan troos en my beter kan laat voel nie. Die vyand was te sterk vir my. My kinders is weg. Die mense wat in my woon, is platgeslaan. Hulle het niks om na uit te sien nie.
17 Sion steek verniet haar hande uit dat iemand haar kan troos. Die Here het vir almal wat rondom Jakob woon, gesê om van nou af sy vyand te wees. Jerusalem het soos ’n melaatse geword van wie jy ver moet wegbly.
18 Die Here is reg. Ek was opstandig teen sy woord. Al julle volke moet luister wat ek sê. Gee aandag aan my hartseer. Al my dogters en my seuns is weggevat na ’n ander land toe.
19 Dié wat beloof het om my te help as daar moeilikheid kom, dié wat vir my lief was, het my in die steek gelaat toe ek hulle gevra het om my te help. Die mans wat vir die Here sy offers gebring het en die oumense wat in die stad gebly het, is nou almal dood. Hulle het kos gesoek om aan die lewe te bly.
20 Here, kyk hoe bang is ek. My hart krimp inmekaar. Ek was so vreeslik opstandig. Die swaard maai alles op die strate af. Binne-in die huise is dit soos die dood.