1 Ai tog! Die goud wat so geblink het, het dof geword. Die klippe waarmee die tempel gebou was, lê gestrooi oor die strate.
2 Die mense wat in Sion bly, was vroeër gereken asof hulle net soveel werd was as goud. Nou word daar gemaak asof hulle niks beter is as die kleipotte wat die pottebakker maak nie.
3 ’n Jakkalswyfie laat haar kleintjies drink. Maar die vroue van my volk het so wreed geword soos die volstruise in die woestyn wat hulle kleintjies weggooi.
4 Elke babatjie se mond is kurkdroog omdat hulle niks kry om te drink nie. Kindertjies soebat verniet vir iets om te eet. Niemand gee vir hulle iets nie.
5 Die mense wat vroeër uitgesoek het watter kos hulle wou eet, loop nou op straat en soek na enigiets om te eet. Die mense wat vroeër die klere van ’n koning gedra het, krap nou op ashope rond vir iets om te eet.
6 God het Sodom in een oomblik verwoes oor sy sonde. My volk se sonde is baie groter as Sodom se sonde.
7 Jerusalem se leiers het mooi gelyk. Hulle klere was helderder as sneeu, witter as melk. Hulle was blakend gesond.
8 Elkeen se gesig het nou pikswart geword. Niemand op straat kan hulle meer herken nie. Hulle is net vel en been. Hulle vel is so uitgedroog soos droë hout.
9 Dit was makliker vir dié wat in die oorlog doodgemaak is as vir hulle wat van honger moet doodgaan. Hulle gaan agteruit en gaan stadig dood omdat daar niks is om te eet nie.
10 Vroue wat hulle kinders liefgehad het, moes selfs hulle eie kinders gaarmaak en eet om te kon oorleef.
11 Die Here het sy woede laat uitwoed. Hy het alles waaroor Hy kwaad was, laat uitkom. Hy het die vuur van sy woede teen Jerusalem laat losbrand. Hy het die stad tot op sy fondamente verwoes.
12 Geen koning en geen mens op aarde het ooit gedink dat enige vyand Jerusalem kon inneem nie.
13 Regverdige mense is in Jerusalem doodgemaak omdat die mense wat God se boodskap vir hulle moes bring, nie na God geluister het nie. Dié wat by sy tempel gewerk het, het nie gedoen wat die Here vir hulle gesê het nie.
14 Hulle het soos blindes voetjie vir voetjie deur die strate geskuifel. Hulle klere was so vol bloed dat niemand eens aan hulle wou vat nie.
15 Ander het vir hulle geskree: “Gee pad van ons af. Julle is vuil. Gee pad en moenie aan ons raak nie!” Toe hulle wegvlug en by ander volke aankom, het dié vir hulle gesê: “Julle kan nie meer hier by ons bly nie! Julle is nie welkom nie!”
16 Die Here het hulle uitgewis. Hy gee niks meer vir hulle om nie. Hy het nie meer tyd vir dié wat by sy tempel werk nie. Hy het geen genade vir die leiers nie.
17 Ons het verniet sit en kyk of daar nie iemand sou kom wat ons kon help nie. Ons het by die uitkykpunt tevergeefs gestaan en uitkyk of daar nie ’n nasie kom wat ons sal red nie.
18 Hulle het ons so fyn dopgehou dat ons dit nie op straat kon waag nie. Ons dae was getel. Ons einde was naby. Ons einde het gekom.
19 Dié wat ons agtervolg het, was vinniger op ons as arende wat van bo af op hulle prooi afduik. As ons in die berge ingevlug het, was hulle warm op ons spoor. As ons na die woestyn toe gevlug het, het hulle ons reeds voorgelê.
20 Ons was vir ons lewe afhanklik van die koning wat die Here vir ons gegee het. Ons het gedink hy sal ons lei en tussen die nasies laat oorleef. Maar hulle het hom voorgelê en hom gevang.
21 Julle van Edom wat in die land Us bly, moet maar lag en lekkerkry. Die dag van julle afrekening sal kom wanneer julle ook gestraf sal word en in die skande gaan kom.
22 Jou sonde is nou afgehandel, Sion. Jy sal nie langer meer in ’n ander land hoef te bly nie. Maar jou oortredings, Edom, is volgende aan die beurt. Jy gaan gestraf word vir wat jy gedoen het. Jy gaan uit jou eie land weggevat word na ’n ander land omdat jy teen God oortree het.