3 Juda is weggevat om te gaan swaarkry. Hulle woon tussen vreemde volke waar hulle nie tuis is nie. Die vyand het hulle agtervolg, hulle ingehaal en hulle in ’n hoek vasgekeer.
4 Omdat niemand meer na die feeste by die tempel kom nie, lê die paaie na Sion eensaam en verlate. Die priesters staan by die hek en sug omdat daar niemand meer oor is nie. Die jong vroue is hartseer omdat dit so swaar is om in Jerusalem te bly.
5 Jerusalem se vyande het gewen. Hulle leef nou baie rustig. Die Here laat die stad swaarkry oor die baie dinge wat sy verkeerd gedoen het. Haar vyande het haar kinders weggevat om in ’n ander land te gaan woon.
6 Sy was baie mooi, maar nou het die skoonheid van die dogter van Sion verdwyn. Haar leiers het soos takbokke geword wat nie ’n plek kry waar hulle kan wei nie. Hulle hardloop onrustig voor die jagters uit.
7 In hierdie tyd dat sy so swaarkry, dink Jerusalem terug aan hoe pragtig sy vroeër gelyk het. Maar daar was niemand om haar te help toe sy in die vyand se hand beland het nie. Die vyand het lekkergekry toe sy aan haar einde kom en vir haar gelag.
8 Almal staan die kop en skud oor Jerusalem wat soveel skande gemaak het. Sy is onaanvaarbaar vir God. Almal wat vroeër so baie van haar gedink het, het gesien hoe sy lyk as sy kaal is. Nou verag hulle haar. Sy het net ’n kreun gegee en in skaamte haar rug vir hulle gedraai.
9 Die skande wat sy oor haarself gebring het, klou aan haar lyf. Sy weet nie hoe om daarvan ontslae te raak nie. Sy het so diep geval dat niemand haar meer kan help nie. Sy roep: “Here, kyk hoe sleg gaan dit met my noudat die vyand my oorwin het!”