9 Die skande wat sy oor haarself gebring het, klou aan haar lyf. Sy weet nie hoe om daarvan ontslae te raak nie. Sy het so diep geval dat niemand haar meer kan help nie. Sy roep: “Here, kyk hoe sleg gaan dit met my noudat die vyand my oorwin het!”
10 Die vyand het alles wat vir haar dierbaar was, by haar weggevat en vir hulleself gehou. Sy het selfs gesien hoe ander volke in die Here se huis ingaan. Die Here het vroeër sulke mense belet om tussen die mense van sy volk te kom.
11 Haar mense loop en kla terwyl hulle na kos soek om te eet. Hulle het alles wat vir hulle belangrik was, geruil vir kos. Hulle het alles gegee net om aan die lewe te bly. “Kyk tog mooi, Here. Almal verag my!”
12 Julle wat by die stad verbyloop, moet oplet. Kyk mooi. Is daar nog enigiemand anders wat soveel pyn het as ek? Die Here het hierdie seer oor my gebring die dag toe Hy so kwaad was vir my en my gestraf het.
13 Hy het ’n vuur van bo af gestuur wat my verteer het. Hy het ’n vangnet vir my gespan wat my laat terugsteier het. Hy het my eensaam en siek agtergelaat.
14 Die Here het met sy hand die dinge wat ek verkeerd gedoen het soos ’n tou inmekaar- gevleg. Hy het dit soos ’n juk op my nek gesit. Ek het nie genoeg krag om dit te dra nie. Die Here het my oorgegee aan mense teen wie ek nie sterk genoeg is om te veg nie.
15 Die Here het al die sterk mans wat ek gehad het, met minagting weggewys. Hy het ’n weermag bymekaargemaak om my jongmanne te verslaan. Die Here het Juda stukkend getrap. Dit was soos druiwe wat jy met jou voete in die parskuip stukkend trap.