16 Jou vyande het baie oor jou te sê. Hulle fluit deur hulle tande en dryf die spot met jou. Hulle sê: “Uiteindelik het die dag gekom waarvoor ons gewag het om die stad te vernietig!”
17 Die Here het met jou laat gebeur wat Hy oor jou besluit het. Hy het jou genadeloos verwoes, soos Hy lank terug al beloof het. Hy het jou vyande sterk gemaak en hulle laat lekkerkry toe hulle jou verslaan het.
18 Laat die mure van Sion by die Here gaan pleit. Laat daar dag en nag trane vloei soos ’n rivier. Moenie vir ’n oomblik ophou nie.
19 Staan elke keer in die nag op wanneer die wagte omruil en roep na die Here. Stort julle hart soos water voor Hom uit. Steek julle hande na Hom toe uit. Pleit by Hom vir julle kinders wat op die straat van honger inmekaarsak.
20 Kyk ’n bietjie, Here, wie kry die swaarste onder dit wat U met ons laat gebeur het. Moet vroue dan die kinders eet wat hulle self in die wêreld gebring het? Moet die priesters dan daar waar hulle vir die Here by sy tempel werk, doodgemaak word? Moet die profete wat God se boodskap oordra, dan daar doodgaan?
21 Buite op die grond lê daar jonges en oues wat dood is. Die jonges is met die swaard doodgemaak. Die dag toe U kwaad geword het, het U hulle doodgemaak. U het hulle sonder genade soos diere geslag.
22 U het van oral af my vyande geroep asof dit ’n fees was waarvoor hulle moes kom. Die dag toe die Here sy woede losgelaat het, het niemand dit reggekry om te ontsnap nie. Die vyand het my kinders doodgemaak wat ek met soveel liefde grootgemaak het.