Klaagliedere 2:7-13 DB

7 Die Here wou niks verder weet van die plek waarop hulle vir Hom geoffer het nie. Hy het nie verder belanggestel in die tempel waar hulle tot Hom kom bid het nie. Hy het die vyand toegelaat om sy huis se mure te kom afbreek. Hulle het in die huis van die Here ingekom en daar ’n lawaai gemaak asof dit ’n plek was waar ’n mens te kere kan gaan soos jy wil.

8 Die Here het besluit dat Sion se mure afgebreek moet word. Hy het merke op die mure gemaak om vir die vyand te wys waarheen hulle moet kom om dit af te breek. Die sterk mure aan die buitekant het saam met die mure aan die binnekant inmekaargestort.

9 Die hekke van die stad lê saam met hulle skarniere onder die rommel begrawe. Haar koning en haar leiers is weggevat na ander volke toe. Dié wat vir die mense moet kom vertel wat die Here sê, hoor niks van die Here nie. Niemand weet meer wat die Here wil hê nie.

10 Die leiers van Sion sit plat op die grond. Hulle sê nie ’n woord nie. Hulle het begrafnisklere aan. Elkeen van hulle gooi grond op sy kop, so hartseer is hulle. Die jongmeisies van Jerusalem sit daar kop onderstebo.

11 Ek is heeltemal verslae. My oë is al leeg gehuil. Ek is naar op my maag as ek sien hoe my volk in duie stort. Kinders en babatjies word flou in die stad se strate.

12 Die kinders soek by die ma’s iets om te eet of te drink. Hulle sak op straat inmekaar soos iemand wat geskiet is. Hulle gaan dood in hulle ma se arms.

13 Wat kan ek as ’n voorbeeld gebruik om jou mee te vergelyk, Jerusalem? Waarmee kan ek jou vergelyk dat dit jou miskien kan troos, Sion? Wat jou oorgekom het, is so vreeslik dat dit nie lyk of iemand jou ooit weer sal kan regkry nie.