Klaagliedere 2:9-15 DB

9 Die hekke van die stad lê saam met hulle skarniere onder die rommel begrawe. Haar koning en haar leiers is weggevat na ander volke toe. Dié wat vir die mense moet kom vertel wat die Here sê, hoor niks van die Here nie. Niemand weet meer wat die Here wil hê nie.

10 Die leiers van Sion sit plat op die grond. Hulle sê nie ’n woord nie. Hulle het begrafnisklere aan. Elkeen van hulle gooi grond op sy kop, so hartseer is hulle. Die jongmeisies van Jerusalem sit daar kop onderstebo.

11 Ek is heeltemal verslae. My oë is al leeg gehuil. Ek is naar op my maag as ek sien hoe my volk in duie stort. Kinders en babatjies word flou in die stad se strate.

12 Die kinders soek by die ma’s iets om te eet of te drink. Hulle sak op straat inmekaar soos iemand wat geskiet is. Hulle gaan dood in hulle ma se arms.

13 Wat kan ek as ’n voorbeeld gebruik om jou mee te vergelyk, Jerusalem? Waarmee kan ek jou vergelyk dat dit jou miskien kan troos, Sion? Wat jou oorgekom het, is so vreeslik dat dit nie lyk of iemand jou ooit weer sal kan regkry nie.

14 Hulle wat vir julle moes sê wat God hulle laat sien het, het vir julle gelieg en julle bedrieg. Hulle moes vir julle gesê het wat julle verkeerd doen om te keer dat julle uit julle land uit weggevat word. Wat hulle vir julle vertel het wat hulle gesien het, was ’n klomp leuens.

15 Almal wat by die stad verbyloop, slaan die hande saam. Hulle skud die kop en fluit van verbasing oor Jerusalem. Hulle wonder: “Is dit die stad wat hulle gesê het so mooi is, wat vreugde vir die wêreld bring?”