Obadja 1 DB

1 Hier volg wat Obadja gesien het. Hy het gesien die Here het ’n boodskap vir Edom. Die Here het ’n boodskapper uitgestuur om vir die volke te gaan sê: “Kom ons maak reg dat ons teen Edom oorlog kan maak!”

2 Die Here sê vir Edom: Ek gaan maak dat jy nie meer belangrik is onder die nasies nie. Inteendeel, hulle sal op jou neersien.

3 Jy woon hoog in die berge waar jy veilig tussen die rotse is. Jy het egter in jou hart ook hoogmoedig geraak en jouself ’n rat voor die oë gedraai. Jy het jou wysgemaak dat niemand jou van daar sal kan afbring ondertoe nie.

4 Maar die Here sê vir jou: Al bou jy jou nes so hoog bo in die berge soos ’n arend, selfs al gaan bly jy daar bo tussen die sterre, Ek sal jou daar gaan afhaal.

5 Diewe en rowers wat in die nag kom steel, vat nie alles nie. Mense wat druiwe pluk, laat die klein trossies oorbly. Maar jou vyand sal niks vir jou laat oorbly nie.

6 Esau se nageslag sal deursoek word. Alles wat hy probeer wegsteek, sal uitgekrap word.

7 Almal met wie jy ’n ooreenkoms gehad het om jou te help sal jou van hulle af wegjaag. Almal met wie jy ’n ooreenkoms gehad het dat julle mekaar nie sal aanval nie, sal jou bedrieg en jou in die rug steek. Mense saam met wie jy geëet het, sal vir jou ’n strik stel. Jy sal dit nie eens agterkom nie.

8 Op daardie dag, sê die Here, sal Ek Edom se slim mense by hom wegvat. Ek sal dié wat kennis het uit Edom se berge laat verdwyn.

9 Die dapper soldate van Teman se broek sal bewe. Elke man daar bo in Edom se berge sal doodgemaak word.

Die aanklag teen Edom

10 Jy het die nageslag van jou pa se broer baie hard behandel. Jy behoort jou daaroor te skaam. Omdat jy jou oom Jakob se nageslag vermoor het, sal jy self uitgemoor word.

11 Die dag toe daar mense van ’n ander plek gekom en Jerusalem verwoes het, het jy met gevoude arms gestaan en kyk sonder om ’n vinger te verroer. Toe vreemdelinge deur die hekke van Jerusalem marsjeer en lootjies getrek het oor die goed wat hulle uit die stad gevat het, was jy aan hulle kant.

12 Jy moes nie staan en lekkerkry het die dag toe die teëspoed jou broersvolk getref het nie. Dit was nie nodig dat jy gewys het hoe bly jy is die dag toe hulle die mense van Juda doodgemaak het nie. Dit was nie reg dat jy alles oor hulle te sê gehad het die dag toe hulle benoud geraak het nie.

13 Dit was nie reg dat jy ook in Jerusalem moes ingaan op die dag toe die ramp hom getref het nie. Jy moes nie so ingenome toegekyk het toe die ongeluk hom tref nie. Jy moes nie ook sy goed gaan staan en steel het toe die onheil oor hom gekom het nie.

14 Jy moes nie by die plek gaan staan het waar die paaie kruis om dié dood te maak wat uit die stad uit weggekom het nie. Dit was verkeerd van jou om dié wat die aanval oorleef het aan die vyand uit te lewer.

Die dag van afrekening

15 Die dag waarop die Here met al die nasies sal afreken, is baie naby. Presies net soos jy met ander gemaak het, Edom, sal daar met jou gemaak word.Jy sal presies net so behandel word.

16 Soos julle by my tempel drank gedrink het, sal al die nasies my oordeel moet drink.Hulle sal alles moet opdrink tot daar niks meer van hulle oorbly nie.

17 My tempel op die berg Sion sal ’n plek word waarheen die mense vlug. Dit sal die plek wees wat vir My eenkant gesit is. Die nageslag van Jakob sal daar kom kry wat aan hulle behoort.

18 Die Here sê: Jakob se nageslag sal soos vuur wees en die huis van Josef soos ’n vlam wat brand. Esau se nageslag sal soos ’n stuk droë gras wees. Hulle sal hom verteer en hom wegbrand totdat daar van Edom nie ’n stukkie oor is nie. Die Here het so gesê.

Sion sal herstel word

19 Dié wat in Negev in die suide bly, sal die berge van Edom vir hulle vat. Dié wat in die kusvlakte teen die see bly, sal die land van die Filistyne oorneem. Ander sal die lande Efraim en Samaria vir hulle vat. Benjamin sal Gilead inpalm.

20 Die Israeliete wat uit hulle land weggevat is, sal terugkom en alles tot bo by Sarfat van Kanaän terugvat. Dié wat in Jerusalem gebly het en van daar af weggevat is na Sarefat, sal weer in die dorpe van Juda kom bly.

21 Dié wat Jerusalem bevry het, sal by die tempel op Sion bymekaarkom om oor Edom te besluit. En die Here sal oor hulle regeer.

hoofstukke

1