1 Hardloop agter liefde aan en wees ywerig vir die gawes van die Gees, maar veral om te profeteer,
2 want hy wat in ’n taal praat, praat nie met mense nie, maar met God, want niemand verstaan wat hy sê nie, maar deur die Gees praat hy geheime.
3 Hy wat profeteer, praat egter woorde van opbouing, aanmoediging en vertroosting tot mense.
4 Hy wat in ’n taal praat, bou homself op, maar hy wat profeteer, bou die gemeente op.
5 Ek wens dat julle almal in tale mag praat, maar meer nog dat julle profeteer, want hy wat profeteer, is groter as hy wat in tale praat, of anders moet hy dit vertaal. As hy vertaal, word die gemeente opgebou.