1 Laat ons op hierdie manier deur julle gereken word as dienaars van Die Gesalfde Een en toesighouers oor die geheime van God.
2 Van nou af word dit hier van die toesighouers verwag dat hulle vertrouenswaardig bevind sal word,
3 maar vir my beteken dit weinig of ek deur julle of deur ’n menslike oordeel beoordeel word; inteendeel, ek beoordeel myself nie eens nie,
4 want ek het niks in myself wat my pla nie. Dit verklaar my egter nie onskuldig nie, maar my Regter is יהוה:
5 Julle moet daarom niemand voor die tyd oordeel nie, nie voordat יהוה kom, wat die geheime dinge van die duisternis in die lig sal bring en die motiewe van die verstand, wil en emosie openbaar sal maak nie en dan sal elkeen lof van God ontvang.
6 In hierdie dinge, broers, het ek myself en Apollos as voorbeelde gebruik, om julle ontwil sodat julle kan leer om nie meer af te lei as wat geskrywe is nie sodat julle nie, die een of die ander, ophef teenoor ’n derde nie,
7 want wie ondersoek jóú? Wat het jy wat nie vir jou gegee is nie en as dit vir jou gegee is, waarom roem jy asof dit nie vir jou gegee is nie?
8 Julle is alreeds uit julleself versadig! Julle het alreeds ryk geword! Julle heers ook onafhanklik van ons! O, dat julle tog maar geheers het sodat ons saam met julle kon heers,
9 want ek dink dat God ons afgevaardigdes aan die einde geplaas het asof tot die dood veroordeel, om ’n skouspel te word vir die wêreld, die engele en die mense!
10 Ons is dwaas ter wille van Die Gesalfde Een, maar julle is verstandig in Die Gesalfde Een. Ons is swak, maar julle is sterk. Julle word geëer, maar ons verag.
11 Tot op hierdie oomblik ly ons honger en dors, is ons kaal, word ons mishandel en het ons nie ’n huis nie
12 en is ons moeg van werk met ons eie hande. Word ons uitgeskel, seën ons; word ons vervolg, hou ons dit uit;
13 word ons beskuldig, smeek ons van hulle; ons het soos vuilgoed van die wêreld geword, die afskraapsel van almal tot nou toe.
14 Ek skrywe hierdie dinge nie om julle skaam te maak nie, maar soos aan liewe kinders gee ek ’n waarskuwing,
15 want al sou julle tien duisend instrukteurs in Die Gesalfde Een hê, het julle daarenteen nie baie vaders nie, want in Die Gesalfde Een, Yeshua, het ek aan julle geboorte gegee deur die goeie boodskap.
16 Daarvolgens doen ek ’n beroep op julle, word my nabootsers;
17 daarom het ek Timotheos, vir wie ek lief is en wat ’n getroue seun in יהוה is, na julle gestuur om aan julle my lewenswyse in Die Gesalfde Een oor te dra, soos ek oral in elke gemeente leer.
18 Aangesien ek nie na julle toe gekom het nie, het sommige arrogant geword,
19 maar, as יהוה wil, sal ek gou na julle toe kom en dan sal ek sien, nie wat die opgeblase sê nie, maar hulle krag,
20 want die Koninkryk van God bestaan nie uit wat gesê word nie, maar in wonderwerkende krag.
21 Wat wil julle hê? Moet ek met ’n stok na julle toe kom of met omgee en in ’n gees van sagtheid?Lev 18:8