Galasiërs 6 PWL

1 My broers, as een van julle deur een of ander oortreding oorval word, moet julle wat in die Gees is, só een herstel met die gees van sagtheid en nederigheid en wees versigtig dat jy nie ook getoets word nie.

2 Dra mekaar se laste, want so word jy volledig in die wet van Die Gesalfde Een,

3 want as iemand dink dat hy iéts is terwyl hy niks is nie, mislei hy homself,

4 maar ’n man moet sy eie dade toets en net in homself roem en nie tussen ander nie,

5 want elkeen moet sy eie taak dra.

6 Hy wat in die boodskap lering ontvang, moet van alles wat goed is, deel met hom wat vir hom lering gee.

7 Moenie jouself mislei nie, want God word nie mislei nie, want enige iets wat die mens saai, dit sal hy ook oes.

8 Hy wat in sy menslike natuur saai, sal vanuit die menslike natuur vernietiging oes, maar hy wat in die Gees saai, sal vanuit die Gees die ewige lewe oes.

9 Wanneer ons doen wat goed is, moenie dat dit moeitevol wees nie, want op die bepaalde tyd sal ons self oes as ons nie moeg word nie.

10 Terwyl ons daarom tyd het, laat ons nou aan almal goed doen, maar spesifiek aan hulle wat seuns is van die huis van vertroue.

11 Sien die groot letters wat ek met my eie hand vir julle skryf.

12 Díé wat in die menslike natuur wil roem, dié dwing julle om julle te laat besny, want net in die besnydenis sal hulle nie vervolg word in Die Gesalfde Een nie,

13 want selfs nie hulle wat besny is, gehoorsaam die wet nie, maar hulle wil dat julle besny word sodat hulle in julle liggame kan roem,

14 maar wat my betref: ek sal nie roem nie, behalwe in eenheid met die kruisiging van ons Meester, Yeshua, Die Gesalfde Een, deur Wie die wêreld vir my gekruisig is en ek vir die wêreld,

15 want nóg die besnydenis nóg die onbesnedenheid het enige waarde, maar ’n nuwe skepping het.

16 Vir díé wat hierdie pad loop: vrede, gesondheid, voorspoed en vergenoegdheid en liefdevolle omgee sal oor julle wees en oor die Yisra’el van God!

17 Mense pla my dus nie, want ek het die merke van die Meester Yeshua in my liggaam ontvang.

18 Die onverdiende guns van ons Meester, Yeshua, Die Gesalfde Een, bly met julle gees, my broers! Dit is waar!

hoofstukke

1 2 3 4 5 6