19 Moenie vir julle skatte opgaar hier op die aarde, waar motte en roes vernietig en waar diewe inbreek en steel nie,
20 maar stoor vir julleself skatte in die hemel, waar mot of roes nie verniel nie en waar diewe nie inbreek en steel nie,
21 want waar julle rykdom is, daar sal julle gedagtes, wil en emosie ook wees.
22 Die lamp van die liggaam is die oog. As jou oog dan goed is (vrygewig), sal jou hele liggaam goed verlig wees,
23 maar as jou oog boos is (suinig), sal jou hele liggaam vol donkerte wees. As die lig in jou dan duisternis is, hoe groot is die donkerte nie!
24 Geen man kan vir twee meesters werk nie, want hy sal òf die een haat en van die ander een hou, òf hy sal getrou wees aan die eerste een en die ander een verwaarloos. Dit is nie moontlik om vir God én vir Mammon te werk nie!
25 Ek sê daarom vir julle: ‘Moenie bekommerd wees oor julleself, wat julle sal eet of drink nie, of oor julle liggaam, wat julle sal aantrek nie. Is die lewe nie meer as kos en die liggaam meer as klere nie?’