Yoganan 11 PWL

1 ’n Sekere El’azar van die dorp Beit-Anyah, Miryam en Marta se broer, was siek.

2 Dit was dié Miryam wat Yeshua se voete gesalf het met welriekende olie en afgedroog het met haar hare, wie se broer, El’azar, siek was.

3 Die twee susters het na Yeshua gestuur en gesê: “Ons Meester, let op, hy vir wie U liefhet, is siek.”

4 Yeshua sê egter: “Hierdie siekte is nie tot die dood nie, maar tot die eer, lof en aanbidding van God sodat die Seun van God daardeur vereer en geloof kan word.”

5 Yeshua het Marta, Miryam en El’azar liefgehad.

6 Toe Hy hoor dat hy siek is, het Hy nog twee dae in die plek waar Hy was, gebly.

7 Daarna sê Hy vir die studentevolgelinge: “Kom, ons moet weer na Y’hudah toe gaan.”

8 Die studentevolgelinge vra vir Hom: “Leermeester, die Jode wil U stenig en U gaan weer terug daarheen?”

9 Yeshua sê vir hulle: “Is daar nie twaalf ure in die dag nie? As iemand in die dag loop, struikel hy nie omdat hy die lig van hierdie wêreld sien,

10 maar as iemand in die nag loop, struikel hy omdat die lig nie in hom is nie.”

11 Nadat Hy dit gesê het, sê Hy vir hulle: “El’azar, ons vriend, slaap, maar Ek gaan om hom wakker te maak.”

12 Hierop sê Sy studentevolgelinge: “Meester, as hy slaap, sal hy gesond word.”

13 Yeshua het egter gepraat van sy dood terwyl hulle gedink het dat Hy van lê en slaap praat.

14 Toe sê Yeshua vir hulle reguit: “El’azar is dood.

15 Ek is bly, om julle ontwil, dat Ek nie daar was nie sodat julle kan vertrou, maar ons gaan daarheen.”

16 Toe sê T’oma, wat ‘Tweeling’ genoem word, vir sy mede-studentevolgelinge: “Laat ons ook gaan om saam met Hom te sterf.”

17 Met Yeshua se aankoms in Beit-Anyah, het Hy gevind dat hy al vier dae in die graf was.

18 Beit-Anyah was langs Yerushalayim, ongeveer drie kilometer weg

19 en baie van die Jode het na Marta en Miryam toe gekom om hulle oor hul broer te vertroos.

20 Toe Marta hoor dat Yeshua gekom het, het sy uitgegaan om Hom te ontmoet, maar Miryam het in die huis gesit.

21 Marta sê vir Yeshua: “My Meester, as U hier was, sou my broer nie gesterf het nie,

22 maar selfs nou weet ek dat alles wat U van God vra, God vir U sal gee.”

23 Yeshua sê vir haar: “Jou broer sal opstaan.”

24 Marta sê vir Hom: “Ek weet dat hy sal opstaan in die opstanding op die laaste dag.”

25 Yeshua antwoord haar: “ אנא אנא - Ek is, was, sal wees Wie Ek is, was, sal wees, die Opstanding en die Lewe; wie in My vertrou, sal lewe al was hy ook dood

26 en elkeen wat lewe en in My vertrou, sal nooit sterf tot in ewigheid nie. Glo jy dit?”

27 Sy antwoord Hom: “Ja, my Meester, ek vertrou dat U Die Gesalfde Een is, die Seun van God, wat in die wêreld gekom het.”

28 Nadat sy dit gesê het, gaan sy en roep vir Miryam, haar suster, eenkant en sê: “Ons Leermeester het gekom en Hy roep jou.”

29 Toe Miryam dit hoor, het sy vinnig opgestaan en na Hom toe gegaan.

30 Yeshua het nog nie by die dorp gekom nie, maar was op die plek waar Marta Hom ontmoet het.

31 Toe die Jode, wat by haar in die huis was en haar vertroos het, sien dat Miryam vinnig opstaan en uitgaan, het hulle saam met haar gegaan en gedink dat sy na die graf toe gaan om daar te huil.

32 Toe Miryam by Yeshua kom en Hom sien, val sy voor Sy voete neer en sê vir Hom: “O, as my Meester hier was, sou my broer nie gesterf het nie.’

33 Toe Yeshua haar en die Jode wat saam met haar gekom het sien huil, is Hy kragtig aangeraak in Sy Gees en was Hy van binne omgekrap.

34 Hy het gevra: “Waar het julle hom neergelê?” Hulle sê vir Hom: “Ons Meester, kom kyk.”

35 Yeshua het gehuil.

36 Die Jode het gesê: “Kyk hoe lief het Hy hom gehad!”

37 Sommige van hulle sê: “Kon Hy wat die oë van die blinde man oopgemaak het, nie verhoed het dat hierdie man sterf nie?”

38 Yeshua is kragtig geraak in Homself en het by die graf gekom. Die graf was ’n grot, met ’n klip voor die ingang geplaas.

39 Yeshua sê: “Neem die klip weg.” Marta, die suster van die man wat dood is, sê vir Hom: “Meester, hy ruik al, want dit is reeds vier dae.”

40 Yeshua sê vir haar: “Het Ek nie vir jou gesê dat as jy aanhou vertrou, jy die Gemanifesteerde Teenwoordigheid van God sal sien nie?”

41 Hulle vat die klip weg en Yeshua lig Sy oë op na bo en sê: “Vader, Ek dank U dat U My gehoor het

42 en Ek weet dat U My altyd hoor, maar ter wille van die skare mense wat hier staan, sê Ek dit sodat hulle kan vertrou dat U My gestuur het.”

43 Nadat Hy dit gesê het, het Hy met ’n harde stem uitgeroep: “El’azar, kom uit!”

44 Hy wat gesterf het, het uitgekom met grafdoeke aan sy hande en voete gebind en sy gesig was toegedraai met ’n doek. Yeshua sê vir hulle: “Maak hom los en laat hom gaan.”

45 Baie van die Jode wat na Miryam toe gekom het, het in Hom vertrou toe hulle sien wat Yeshua gedoen het,

46 maar sommige van hulle het na die Fariseërs gegaan en vir hulle vertel wat Yeshua gedoen het.

47 Die leierpriesters en die Fariseërs het bymekaargekom en gesê: “Wat sal ons doen, hierdie man doen baie wondertekens?

48 As ons Hom so sal toelaat, sal almal in Hom vertrou en die Romeine sal kom en ons posisie en ons nasie wegvat.”

49 Een van hulle, wie se naam Kayafa was, wat daardie jaar hoofpriester was, sê vir hulle: “Julle verstaan niks nie

50 en bereken nie dat dit vir ons voordelig is dat Een man in die plek van die nasie doodgemaak word en die hele nasie nie vernietig word nie.”

51 Dit het hy nie uit homself gesê nie, maar omdat hy daardie jaar die hoofpriester was, het hy profeteer dat Yeshua voorberei word om in die plek van die nasie doodgemaak te word

52 en nie alleen vir die nasie nie, maar ook om die verstrooide kinders van God bymekaar te bring as een.

53 Van dié dag af aan het hulle beplan om Hom dood te maak.

54 Yeshua het nie meer openlik onder die Jode beweeg nie, maar daarvandaan weggegaan na die streek naby die wildernis, na ’n stad wat Efrayim genoem word en Hy het daar gebly saam met Sy studentevolgelinge.

55 Die Pesagfees van die Jode was naby en baie het uit die dorpies na Yerushalayim opgegaan voor die Pesag, om hulle lewe te reinig.

56 Hulle het Yeshua gesoek en terwyl hulle in die tempel staan, sê hulle vir mekaar: “Wat dink julle, sal Hy na die fees toe kom?”

57 Die leierpriesters en die Fariseërs het ook ’n bevel gegee dat, indien iemand weet waar Hy is, hy dit moes bekend maak sodat hulle Hom kon vang.

hoofstukke

1 2 3 4 5 6 7 8 9 10 11 12 13 14 15 16 17 18 19 20 21