16 maar Shim’on het buitekant naby die deur bly staan. Die ander studentevolgeling, wat bekend was met die hoofpriester, het uitgegaan en met die deurwagster gepraat en Kefa ingebring.
17 Toe vra die slavin, die deurwagster, vir Kefa: “Is jy nie ook een van die studentevolgelinge van hierdie man nie?” Hy sê: “Ek is nie.”
18 Die slavinne en die tempelwagte het by ’n vuur gestaan wat hulle gemaak het, want dit was koud en hulle het hulle warm gemaak. Kefa het by hulle gestaan en hom warm gemaak.
19 Die hoofpriester het vir Yeshua ondervra oor Sy studentevolgelinge en oor Sy leer.
20 Yeshua antwoord hom: “Ek het openlik met die mense gepraat. Ek het altyd in die bymekaarkomplekke geleer en in die tempel waar die Jode altyd bymekaarkom en in die geheim het Ek niks gesê nie.
21 Hoekom vra u My? Vra vir hulle wat gehoor het wat Ek vir hulle gesê het. Let op, hulle weet alles wat Ek gesê het.”
22 Toe Hy dit sê, het een van die wagte wat daar staan, Yeshua op die wang geklap en gesê: “Antwoord U die hoofpriester so?”