9 want Hy het Homself aan julle openbaar, aan julle seuns en broers en Hy sal aan julle liefdevolle omgee bewys deur die wat julle gevange weggevoer het en julle terugbring na hierdie land, want יהוה, julle God, is vol onverdiende guns en omgee en Hy sal nie Sy gesig wegdraai van julle as julle na Hom toe terugdraai nie.”
10 Die hardlopers van koning Hizkiyahu het van stad tot stad deur die land van Efrayim en M’nasheh gegaan en selfs tot by Z’vulun,
11 maar sommige van die bose manne uit die stam van Asher, Efrayim, M’nasheh en Z’vulun het hulle uitgelag en gespot.
12 Nogtans het die res van die manne van hierdie stamme hulle verneder en na Yerushalayim gekom saam met die stam van Y’hudah. Die hand van God was op hulle, om vir hulle ’n eensgesinde verstand, wil en emosie te gee om die opdrag van die koning en sy prinse volgens die woord van יהוה uit te voer.
13 Daar het in Yerushalayim baie mense bymekaargekom om die Fees van die Ongesuurde Brode in die tweede maand te hou, ’n baie groot vergadering.
14 Hulle het opgestaan en die altare verwyder wat in Yerushalayim was en ook al die wierookaltare van afgode verwyder en in die spruit van Kidron gegooi.
15 Toe het hulle die Pesag gevier op die veertiende van die tweede maand en die priesters en die Leviete het hulleself afgesonder en brandoffers in die huis van יהוה ingebring.