1 Al die werk wat Shlomo vir die huis van יהוה gedoen het, was klaar en Shlomo het al die dinge ingebring wat sy vader, Dawid, afgesonder het en die silwer, die goud en al die voorwerpe het hy in die skatkamers van die huis van יהוה neergesit.1 Kon 8
2 Toe het Shlomo al die oudstes van Yisra’el, die stamhoofde en die familiehoofde van die seuns van Yisra’el, in Yerushalayim bymekaar laat kom om die ark van die verbond van יהוה uit die stad van Dawid, dit is Tziyon, te bring,
3 waarby al die manne van Yisra’el hulle by die koning in Yerushalayim vergader het op die fees van Sukkot, wat in die sewende maand is.
4 Al die oudstes van Yisra’el het gekom en die priesters het die ark opgetel
5 en die ark, die tent van ontmoeting en al die afgesonderde voorwerpe wat in die tent was, dit het die Leviete en die priesters gebring.
6 Koning Shlomo en die hele vergadering van Yisra’el wat by hom bymekaar was voor die ark, het hulle kleinvee en beeste geoffer wat vanweë die menigte nie getel of bereken kon word nie.
7 Toe het die priesters die ark van die verbond van יהוה na sy plek in die Mees Afgesonderde Plek gebring, onder die vlerke van die gérubs,
8 want die gérubs het hulle vlerke uitgesprei oor die plek van die ark en die gérubs het die ark en sy draagbalke van bo af bedek.
9 Die draagbalke was so lank dat die punte van die draagbalke, van onder die ark, uit die binneste vertrek gesien kon word, maar hulle was nie sigbaar van buite af nie en daar het hulle gebly tot vandag toe.
10 Daar was niks in die ark nie behalwe die twee tafels wat Moshe daar ingesit het, wat hy vanaf Horev gebring het, dieselfde verbond wat יהוה met die seuns van Yisra’el gesluit het toe hulle uit Mitzrayim uitgekom het.
11 Dit het gebeur toe die priesters uit die Afgesonderde Plek uitgaan, want al die priesters wat daar was, het in die Afgesonderde Plek ingegaan,
12 ook die Leviete wat sangers was, van Asaf, Heman en Y’dutun, met hulle seuns en hulle broers, aangetrek in wit linne, met simbale, instrumente en harpe, aan die oostekant van die altaar en saam met hulle ’n honderd en twintig priesters wat op die trompette blaas;
13 die trompetblasers en die sangers was saam soos een sodat een klank gehoor is om יהוה te prys en te dank; toe hulle hul stemme oplig saam met die trompette, die simbale en die musiekinstrumente, om יהוה te loof en te sê: “Hy is goed, Sy onverdiende guns duur vir ewig,” is die huis van יהוה gevul met ’n wolk.
14 Die priesters kon nie staan om te bedien as gevolg van die wolk nie, want die huis van יהוה was gevul met die helderheid van Sy Gemanifesteerde Teenwoordigheid.