1 Daar is ’n seisoen vir alles en ’n tyd vir elke begeerte onder die son:
2 ’n tyd om gebore te word en ’n tyd om te sterf; ’n tyd om te plant en ’n tyd om uit te ruk wat geplant is;
3 ’n tyd om dood te maak en ’n tyd om gesond te maak; ’n tyd om af te breek en ’n tyd om op te bou;
4 ’n tyd om te huil en ’n tyd om te lag; ’n tyd om te treur en ’n tyd om te dans;
5 ’n tyd om klippe weg te gooi en ’n tyd om klippe bymekaar te maak; ’n tyd om te omhels en ’n tyd om weg te bly van omhelsing;
6 ’n tyd om te verloor en ’n tyd om te soek; ’n tyd om vas te bind en ’n tyd om los te maak;
7 ’n tyd om te skeur en ’n tyd om aanmekaar te werk; ’n tyd om stil te bly en ’n tyd om te praat;
8 ’n tyd om lief te hê en ’n tyd om te haat; ’n tyd vir oorlog en ’n tyd vir vrede.
9 Watter voordeel het die arbeider in sy harde werk?
10 Ek het die harde werk gesien wat God aan die mensekinders gegee het om daarmee besig te wees.
11 Hy het alles mooi gemaak in sy tyd; Hy het ook die wêreld vir die mens kosbaar gemaak sodat geen mens die werke wat God gedoen het, van begin tot einde, kan uitvind nie.
12 Ek weet dat daar niks goeds in wêreldse dinge is nie, maar dat die mens hom verbly en goed doen in die lewe
13 en ook dat elke mens sal eet en drink en al die goeie van sy harde werk sal geniet; dit is die geskenk van יהוה.
14 Ek weet dat, wat יהוה ook al doen, dit sal vir ewig wees; daar kan niks bygevoeg en niks weggevat word daarvan nie en יהוה het dit so gemaak dat die mens Hom respekvol moet vrees.
15 Dit wat nou is, was alreeds en dit wat nog moet wees, was alreeds en God sal hom wat vervolg is, wreek.
16 Ek het ook onder die son die plek van oordeel gesien: dat daar boosheid was en dat daar onregverdigheid in die plek van regverdigheid was.
17 Ek het in my binneste gesê: “God sal die regverdige en die bose oordeel, want daar is ’n tyd vir elke plesier en vir elke werk.
18 Ek oordink in my binneste die staat van die seuns van die mens wat God geskep het en sien dat hulle soos wilde diere is,
19 want dieselfde ongeluk wat die seuns van die mens tref, tref ook die wilde diere, dieselfde ongeluk tref hulle: soos die een sterf, so sterf die ander; ja, hulle het almal een asem sodat die mens geen voorkeur het bo die wilde diere nie, want alles is waardeloos.
20 Alles gaan na een plek toe; alles is vanuit die stof en alles keer terug na stof.
21 Wie weet of die gees van die mens opgaan boontoe en die gees van die wilde diere afwaarts na onder die aarde gaan?
22 Dus het ek gesien dat daar niks beters in hulle is as dat die mens hom moet verheug in sy werke nie, want dit is sy deel, want wie sal hom daartoe bring dat hy kan sien wat ná hom sal wees?