6 Toe het die seuns van Y’hudah nader gekom na Y’hoshua in Gilgal en Kalev, die seun van Y’funneh, die K’niziet, het vir hom gesê: “Jy ken die woord wat יהוה met Moshe, die man van God, in Kadesh-Barnea gepraat het met betrekking tot jou en my.
7 Ek was veertig jaar oud toe Moshe, die dienskneg van יהוה, my van Kadesh-Barnea af gestuur het om die land te verken en ek het vir hom woord gebring soos dit in my hart was.
8 Nogtans het my broers wat saam met my opgegaan het, die binneste van die volk laat smelt met vrees, maar ek het יהוה, my God, ten volle gevolg.
9 Op dié dag het Moshe gesweer en gesê: ‘Waarlik, die land waarop jou voet getrap het, sal aan jou en aan jou seuns tot in ewigheid as ’n erfenis wees omdat jy יהוה, my God, ten volle gevolg het.’
10 Nou, let op, יהוה het my laat lewe, net soos Hy gesê het, hierdie vyf en veertig jaar sedert יהוה hierdie woord met Moshe gepraat het toe Yisra’el in die wildernis geloop het en nou, let op, ek is vandag vyf en tagtig jaar oud.
11 Ek is vandag nog net so sterk soos die dag toe Moshe my gestuur het; soos my krag toe was, so is my krag nou, om te veg en om uit te gaan en in te kom.
12 Nou dan, gee my hierdie bergland waarvan יהוה op daardie dag gepraat het, want jy het dié dag gehoor dat dáár `Anakiete is met groot versterkte stede; miskien sal יהוה met my wees en ek sal hulle uitdryf, soos יהוה gesê het.”