1 Dit het gebeur dat, toe al die konings van die Emoriete wat anderkant die Yarden na die weste was en al die konings van die Kena’aniete wat by die see bly, gehoor het dat יהוה die water van die Yarden voor die seuns van Yisra’el uit opgedroog het totdat hulle deurgetrek het, hulle binneste versmelt en daar in hulle geen gees meer was vanweë die seuns van Yisra’el nie.
2 In daardié tyd het יהוה vir Y’hoshua gesê: “Maak vir jou klipmesse en besny weer die seuns van Yisra’el vir die tweede keer.”
3 Y’hoshua het vir hom klipmesse gemaak en die seuns van Yisra’el besny by Giv’atHa’Aralot (die heuwel van die voorhuide).
4 Hierdie is die rede waarom Y’hoshua hulle besny het: die hele volk wat uit Mitzrayim uitgetrek het, wat mans was, al die krygsmanne, het op pad in die wildernis gesterf nadat hulle uit Mitzrayim gekom het,
5 want die hele volk wat uitgetrek het, is besny, maar al die mense wat op pad in die wildernis gebore is, soos hulle uit Mitzrayim gekom het, is nie besny nie,
6 want vir veertig jaar lank het die seuns van Yisra’el in die wildernis geloop totdat die hele volk, die krygsmanne wat uit Mitzrayim weggetrek het, dood is omdat hulle nie geluister het na die stem van יהוה nie; vir wie יהוה gesweer het dat Hy hulle die land nie sou laat sien wat יהוה hulle vaders met ’n eed beloof het om aan ons te gee nie; ’n land wat vloei met melk en heuning.
7 Hulle seuns, wat Hy in hulle plek laat opstaan het; dié het Y’hoshua besny, want hulle was onbesnede omdat hulle nie op pad besny is nie.
8 Toe die hele volk klaar besny is, het hulle op hul plek in die kamp gebly totdat hulle gesond was.
9 Toe het יהוה vir Y’hoshua gesê: “Vandag het Ek die smaad van Mitzrayim van julle afgerol.” Dié plek word daarom tot vandag toe Gilgal genoem.
10 Terwyl die seuns van Yisra’el by Gilgal gekamp het, het hulle die Pesag gehou met sonsondergang, op die veertiende dag van die maand, op die vlakte van Yerigo.
11 Op die dag ná die Pesag, op daardie presiese dag, het hulle van die opbrengs van die land geëet: ongesuurde brode en gebraaide graan.
12 Die dag nadat hulle van die opbrengs van die land geëet het, het die ‘man hu’ opgehou sodat die seuns van Yisra’el verder geen ‘man hu’ gehad het nie, maar hulle het geëet van die opbrengs van die land Kena’an in daardie jaar.
13 Dit het gebeur terwyl Y’hoshua by Yerigo was dat hy sy oë oplig en let op, daar het ’n man teenoor hom gestaan met sy getrekte swaard in sy hand en Y’hoshua het na hom toe gegaan en hom gevra: “Is jy vir ons of vir ons vyande?
14 Hy sê vir hom: “Ek is die Bevelvoerder van die leër van יהוה en nou het Ek hierheen gekom.” Y’hoshua val op sy gesig op die grond en buig hom neer en vra vir Hom: “Wat het my Meester vir Sy dienskneg te sê?”
15 Die Bevelvoerder van die leër van יהוה sê vir Y’hoshua: “Verwyder jou sandale van jou voete af, want die plek waar jy staan, is afgesonderd.” Y’hoshua het so gedoen.