1 Toe het Y’hoshua, die seun van Nun, in die geheim twee manne as verkenners uit Shitteem uitgestuur en gesê: “Gaan kyk na die land en veral Yerigo.” Hulle het gegaan en in die huis van ’n hoer, met die naam van Ragav, ingekom en daar gebly.
2 Dit is aan die koning van Yerigo vertel en gesê: “Let op, manne uit die seuns van Yisra’el het vannag hierheen gekom om die land te verken.”
3 Die koning van Yerigo het na Ragav gestuur om te sê: “Bring die manne uit wat na jou toe gekom het, wat in jou huis ingegaan het, want hulle het gekom om die hele land te verken.”
4 Die vrou het egter die twee manne gevat en hulle weggesteek en sy het gesê: “Ja, die manne het na my toe gekom, maar ek het nie geweet waar hulle vandaan was nie.
5 Dit het gebeur dat toe die poort met donker gesluit moes word, die manne uitgegaan het; ek weet nie waarheen die manne gegaan het nie; agtervolg hulle gou, want julle sal hulle inhaal.”
6 Sy het hulle egter opgevat na die dak toe en hulle weggesteek onder die vlasstingels wat sy op haar dak oopgegooi het.
7 Die manne het hulle toe agternagejaag in die rigting van die Yarden, na die driwwe; dadelik nadat hulle agtervolgers uitgegaan het, het hulle die hek gesluit.