18 Wat maak jy dan nou op die pad na Mitzrayim, om die water van die Nyl te drink? Of wat maak jy op die pad na Ashur, om die waters van die Eufraat te drink?
19 Jou eie boosheid sal jou reghelp en jou afvalligheid sal jou bestraf; weet dan en sien dat dit boos en bitter is vir jou om יהוה, jou God, te verlaat; My respekvolle vrees is dan nie in jou nie,” verklaar יהוה, God van die leërskare,
20 “want lank gelede het Ek jou juk verbreek en jou bande afgeskeur, maar jy het gesê: ‘Ek sal nie dien nie,’ want op elke hoë heuwel en onder elke groen boom het jy gaan lê as ’n hoereerder.
21 Nogtans het Ek jou geplant as ’n keur wingerdstok, ’n heeltemal betroubare saad. Hoe het jy jouself dan voor My verander in die minderwaardige lote van ’n vreemde wingerdstok?
22 Alhoewel jy jou was met loog en baie seep gebruik, is die vlek van jou onregverdigheid voor My,” verklaar יהוה-God.
23 “Hoe kan jy sê: ‘Ek is nie onteer nie; ek het nie agter die Ba’als aan gegaan nie?’ Kyk na jou lewenswyse in die valleie en besef wat jy gedoen het! Jy is ’n jong kameelkoei wat haar stem verhef;
24 ’n wilde-donkie, gewoond aan die wildernis, wat in haar heftige begeerte die wind snuif in die tyd van haar hitte! Wie kan haar wegkeer? Almal wat haar soek, sal hulle nie vermoei nie; in haar maand sal hulle haar kry.