1 “As jy sou erken en omdraai, o Yisra’el,” verklaar יהוה, “dan moet jy na My toe terugdraai en as jy jou verwerplike dinge van voor My Teenwoordigheid af sal wegsit en nie twyfel nie
2 en jy sal sweer: ‘So waar as יהוה leef,’ in waarheid, in regverdige oordeel en in onpartydige opregtheid, dan sal die nasies hulleself in Hom seën en in Hom sal hulle hul beroem,”
3 want so sê יהוה aan die manne van Y’hudah en aan Yerushalayim: “Ploeg julle braakland om en moenie tussen dorings saai nie.
4 Besny julleself tot יהוה en verwyder die onbesnedenheid van julle verstand, wil en emosie, manne van Y’hudah en inwoners van Yerushalayim, of anders sal My toorn soos ’n vuur uitgaan en brand met niemand om dit te blus nie, as gevolg van die boosheid van julle dade.”
5 Verklaar in Y’hudah en verkondig dit in Yerushalayim en sê: “Blaas die ramshoring in die land! Roep hardop uit en sê: ‘Bring julleself bymekaar en laat ons in die versterkte stede ingaan!’
6 Lig ’n banier na Tziyon toe óp! Soek skuiling, moenie staan nie, want Ek bring boosheid uit die noorde en ’n groot vernietiging.
7 ’n Leeu het opgekom uit sy fynbos en ’n vernietiger van nasies het opgetrek; hy het uit sy plek uitgegaan om jou land ’n woesteny te maak; jou stede sal puinhope word, sonder inwoners.
8 Hiervoor, trek rouklere aan, treur en huil, want die heftige woede van יהוה het nie omgedraai van jou af nie.”
9 “Dit sal gebeur op dié dag,” verklaar יהוה, “dat die binneste van die koning en die binneste van die prinse sal faal en die priesters sal verskrik wees en die profete verstom staan.”
10 Toe het ek gesê: “Ag, יהוה-God, waarlik, ek het hierdie volk en vir Yerushalayim grootliks mislei deur te sê: ‘Julle sal vrede hê’ terwyl ’n swaard aan die keel raak.”
11 In daardie tyd sal dit vir hierdie volk en vir Yerushalayim gesê word: “’n Gloeiende wind sal waai vanaf die kaal hoogtes in die wildernis in die rigting van die dogter van My volk; nie om te wan of skoon te maak nie,
12 maar ’n sterk wind vanaf daardie plekke sal na My toe kom; nou sal Ek ook oordele teen hulle uitspreek.
13 “Let op, hy gaan op soos wolke en sy strydwaens soos ’n warrelwind; sy perde is vinniger as arende. Wee ons, want ons is verwoes!”
14 “Was jou verstand, wil en emosie van boosheid, o Yerushalayim sodat jy gered kan word. Hoe lank sal jou bose gedagtes blyplek vind in jou?
15 Want ’n stem verkondig boosheid vanuit Dan en vanaf die gebergte van Efrayim.
16 Rapporteer dit nou aan die nasies! Verklaar oor Yerushalayim: ‘Beleërders kom uit ’n ver land en lig hulle stem op teen die stede van Y’hudah.’
17 Soos wagters oor ’n veld, is hulle reg rondom teen haar omdat sy teen My gerebelleer het,” verklaar יהוה.
18 “Jou paaie en jou dade het hierdie dinge na jou toe gebring. Hierdie is jou boosheid; hoe bitter! Hoe het dit nie jou verstand, wil en emosie aangeraak nie!”
19 “My lewe, my lewe! Ek is in angs! O, my hart! My hart klop in my, ek kan nie stil wees nie, want jy, my lewe, het die klank van die ramshoring gehoor, die oorlogsalarm!
20 Ramp op ramp word uitgeroep, want die hele land is verwoes; skielik is my tente verwoes, my gordyne het afgeval.
21 Hoe lank moet ek die banier sien, die geluid van die ramshoring hoor?
22 Want My volk is dwaas, hulle ken My nie; hulle is dwase seuns en het geen insig nie. Hulle is slinks om boosheid te doen, maar om goed te doen, weet hulle nie.”Gen 1:2 en na die hemele en hulle het geen lig gehad nie.
23 Ek het na die aarde gekyk en let op, dit was vormloos en leeg
24 Ek het na die berge gekyk en let op, hulle het geskud en al die heuwels het heen en weer beweeg.
25 Ek het gekyk en let op, daar was geen mens nie en al die voëls van die hemele het gevlug.
26 Ek het gekyk en let op, die vrugbare land was ’n wildernis en al sy stede was afgebreek voor יהוה, voor Sy intense woede,
27 want so sê יהוה: “Die hele land sal ’n verlatenheid wees, tog sal Ek nie ’n volkome vernietiging uitvoer nie.
28 Hieroor sal die aarde treur en die hemele daarbo donker wees omdat Ek gepraat het, Ek het dit ten doel gehad en Ek sal nie My gedagtes verander nie en ook nie daarvan wegdraai nie.”
29 Met die geluid van die ruiters en boogskutters vlug elke stad; hulle gaan in die onderbosse in en klim op die rotse; elke stad is verlate en geen mens bly in hulle nie.
30 Jy, verlate een, wat gaan jy doen? Al trek jy skarlaken aan, al versier jy jou met goue ornamente, al maak jy jou oë groter met verf; tevergeefs maak jy jouself mooi; jou minnaars verag jou, hulle soek jou lewe,
31 want ek het ’n uitroep gehoor soos van ’n vrou wat geboorte gee, ’n benoudheid soos van een wat geboorte gee aan haar eerste kind, die geskree van die dogter van Tziyon, hygend na asem, sy sprei haar hande uit en sê: “Wee my, want ek word flou voor moordenaars.”