1 Ongeveer hierdie tyd het die Filistyne hulle troepe saamgetrek vir ’n oorlog teen Israel. Akis sê vir Dawid: “Jy besef seker dat jy en jou manne saam met my oorlog toe sal moet gaan.”
2 “Sekerlik!” sê Dawid. “Dan kan u self sien waartoe ons in staat is.”Akis sê vir hom: “Goed, ek stel jou permanent aan as my persoonlike lyfwag.”
3 Intussen het Samuel gesterf. Die hele Israel het oor hom gerou. Hy is in Rama, sy tuisdorp, begrawe. En Saul het al die dodebesweerders en waarsêers uit die land verban.
4 Die Filistyne het hulle kamp by Sunem opgeslaan. Saul het al die Israeliete opgeroep en kamp opgeslaan by Gilboa.
5 Toe Saul die groot Filistynse mag sien, het hy wanhopig van vrees geword.
6 Hy het die Here gevra wat hy moes doen, maar die Here het hom nie geantwoord nie, nie deur drome nie en ook nie deur die Urim of die profete nie.
7 Saul beveel toe sy amptenare: “Soek ’n vrou wat ’n dodebesweerder is sodat ek vir haar kan gaan vra wat om te doen.”Sy amptenare antwoord: “Daar is ’n dodebesweerder in En-Dor.”