1 Israel het opgetrek om teen die Filistyne oorlog te maak. Hulle het by Eben-Haeser kamp opgeslaan en die Filistyne by Afek.
2 Hulle het stelling ingeneem teenoor Israel. In die geveg het die Filistyne Israel verslaan en 4 000 soldate doodgemaak.
3 Ná die geveg het die Israeliete teruggegaan na hulle kamp toe. Die leiers het gevra: “Hoekom het die Here toegelaat dat die Filistyne ons verslaan? Kom ons kry die verbondsark van die Here wat in Silo is en neem dit saam na die slagveld toe. Dit sal ons red van ons vyande.”
4 Hulle stuur toe mense na Silo en gaan haal die verbondsark van die Here, die Almagtige, Hy wat oor die gerubs troon. Hofni en Pinehas, die seuns van Eli, was by die verbondsark.
5 Toe die Israeliete sien dat die verbondsark van die Here die kamp ingebring word, het hulle gejuig van blydskap. Die gejuig was so hard dat die grond gebewe het.
6 “Wat gaan aan?” het die Filistyne gevra. “Waaroor gaan al die geskreeu in die kamp van die Hebreërs?” Toe hulle hoor dat die verbondsark van die Here daar aangekom het,
7 was hulle paniekbevange. “Hulle God het in hulle kamp aangekom!” het hulle uitgeroep. “Dit is ’n ramp! So iets het nog nooit gebeur nie!
8 Wie kan ons red van hierdie magtige God van Israel? Dit is dieselfde God wat Egipte in die woestyn met allerlei plae geteister het.
9 Filistyne, julle sal met mag en mening moet veg! As julle dit nie doen nie, sal ons die slawe van die Hebreërs word soos hulle ons slawe was!”
10 Die Filistyne het toe desperaat geveg en Israel weereens verslaan. Dit was ’n groot slagting: 30 000 Israeliete het daardie dag gesterf. Dié wat dit oorleef het, het na hulle tente toe gevlug.
11 Die ark van God is ook afgeneem en Hofni en Pinehas, die twee seuns van Eli, is doodgemaak.
12 Iemand uit die stam van Benjamin het dié dag van die slagveld af na Silo toe gehardloop. Hy het sy klere geskeur en daar was as op sy kop as teken van rou.
13 Eli het langs die pad gesit en wag op nuus van die veldslag, want hy was bekommerd oor die ark van God. Toe die boodskapper daar aankom en vertel wat gebeur het, het die mense in die dorp hulle ontsteltenis uitgeskreeu.
14 “Waaroor is al die geraas en oproer?” het Eli gevra.Die boodskapper het na Eli toe gehardloop.
15 Eli was 98 jaar oud en byna blind.
16 Hy sê vir Eli: “Ek kom so pas van die oorlogsfront af.”“Wat het gebeur?” vra Eli.
17 “Israel is verslaan,” antwoord die boodskapper, “en baie Israeliete het gesneuwel. U twee seuns, Hofni en Pinehas, het ook gesneuwel en die ark van God is buitgemaak.”
18 Toe die boodskapper sê wat met die ark gebeur het, het Eli daar by die poort agteroor van sy stoel af geval. Hy het sy nek gebreek en gesterf, want hy was baie oud en oorgewig. Hy het Israel 40 jaar lank gelei.
19 Eli se skoondogter, die vrou van Pinehas, was swanger en op haar laaste. Toe sy hoor dat die ark van God geneem is en dat haar man en skoonpa dood is, het geboortepyne haar oorval.
20 Terwyl sy geboorte gee, het sy gesterf. Voordat sy dood is, het die vroedvroue haar probeer opbeur: “Moenie bang wees nie,” sê hulle. “Jy het ’n seuntjie!” Sy het haar egter nie aan hulle gesteur nie,
21 maar die seuntjie Ikabod genoem en gesê: “Die eer is uit Israel weggeneem.” Daarmee het sy verwys na die ark van God wat gebuit is en omdat haar man en skoonpa dood was.
22 Sy het gesê: “Die eer is weggeneem uit Israel, want die ark van God is buitgemaak.”