1 Die hele Filistynse leër het by Afek saamgetrek, terwyl die Israeliete by die fontein in Jisreël kamp opgeslaan het.
2 Die Filistynse bevelvoerders het hulle soldate in groepe van 100 en 1 000 laat uittrek. Dawid en sy manne het die agterhoede van koning Akis gevorm.
3 Toe vra die Filistynse bevelvoerders: “Wat maak hierdie Hebreërs hier?”Akis sê vir hulle: “Dit is Dawid, die onderdaan van Saul, koning van Israel. Hy is nou al ’n geruime tyd by my. Sedert hy na my toe uitgewyk het, kon ek nog geen fout by hom vind nie.”
4 Maar die Filistynse bevelvoerders was kwaad. “Stuur hom terug na die plek wat jy tot sy beskikking gestel het!” eis hulle. “Hy kan nie saam met ons in die geveg gaan nie. Wat sal gebeur as hy teen ons draai? Daar is mos g’n beter manier vir hom om weer met sy heer versoen te raak as met die koppe van ons vegters nie!
5 Dis mos dieselfde Dawid oor wie die vroue van Israel in hulle koordanse gesing het:Saul het sy duisende verslaan,maar Dawid sy tienduisende!”
6 Toe roep Akis vir Dawid. “So waar as die Here leef,” sê hy, “jy is betroubaar en getrou in alles wat jy doen. Vandat jy by my is tot nou toe het jy niks verkeerds gedoen nie. Ek dink julle is reg, maar die Filistynse vorste wil niks van jou weet nie.