21 Op 8 Januarie, in die twaalfde jaar van ons ballingskap, het ’n man wat uit Jerusalem ontsnap het, na my toe gekom en gesê: “Die stad het geval!”
22 Die vorige aand het die Here aan my verskyn en my mond oopgemaak sodat ek kon praat toe die man die volgende oggend by my kom.
23 Toe het die Here vir my gesê:
24 “Mensekind, die mense van Juda wat tussen die puinhope in die land Israel bly, sê: ‘Abraham was net een mens, en tog het hy die hele land gekry. Ons is baie. Die land behoort nou aan ons gegee te word!’
25 Sê vir die mense die oppermagtige Here sê: Julle eet vleis met bloed daarin, aanbid afgode en vermoor onskuldiges.
26 Julle is moordenaars, afgodsdienaars en egbrekers! Behoort die land aan julle gegee te word?
27 “Sê vir hulle die oppermagtige Here sê: So seker as Ek leef, die mense wat tussen die puinhope leef, sal deur die swaard doodgemaak word. Dié wat in die oop veld bly, sal deur wilde diere doodgemaak word. Dié wat in forte en grotte wegkruip, sal van siekte doodgaan.