1 Die Gees het my toe opgelig en na die oostelike ingang van die tempel van die Here gebring. Daar sien ek toe 25 leiers van die stad. Tussen hulle was Jaäsanja seun van Assur en Pelatja seun van Benaja. Hulle was leiers van die volk.
2 Die Gees sê toe vir my: “Mensekind, dít is die mans wat bose planne uitdink en slegte advies in hierdie stad gee.
3 Hulle sê vir die mense: ‘Is dit nie ’n goeie tyd om huise te bou nie? Ons stad is soos ’n ysterpot. Daarbinne is jy so veilig soos vleis in die pot.’
4 Daarom moet jy hard en duidelik teen hulle profeteer, mensekind.”
5 Die Gees van die Here kom toe oor my en Hy beveel my om te sê: “Dit is wat die Here van die mense van Israel sê: Is dit wat julle sê? Ja, Ek weet dit is. Ek ken mos elke gedagte wat in julle gedagtewêreld opkom.
6 Julle het aangehou om mense te vermoor sodat julle strate vol lyke is.
7 “Daarom sê die oppermagtige Here nou: Hierdie stad ís ’n ysterpot. Maar die slagoffers van julle bose optrede is die stukke vleis daarin. En julle is hoegenaamd nie veilig nie, want Ek sleep julle binnekort uit die stad.
8 Julle is bang vir oorlog, en dis oorlog wat Ek oor julle gaan bring, sê die oppermagtige Here.
9 “Ek dryf julle uit Jerusalem en gee julle oor aan vreemdelinge wat julle namens My sal straf.
10 Julle sal al langs die grense van Israel uitgeroei word, en dan sal julle weet dat Ek die Here is.
11 Nee, hierdie stad sal nie ’n ysterpot vir julle wees nie, en julle sal nie daarbinne so veilig soos vleis wees nie. Ek sal julle straf tot by die grense van Israel.
12 “Dan sal julle weet dat Ek die Here is. Julle het mos geweier om aan My gehoorsaam te wees. Julle het eerder al die verkeerde dinge gedoen wat die nasies rondom julle gedoen het.”
13 Terwyl ek nog gepraat het, het Pelatja seun van Benaja skielik gesterf. Ek het toe met my gesig op die grond neergeval en uitgeroep: “O oppermagtige Here, gaan U almal in Israel doodmaak?”
14 Die Here het vir my gesê:
15 “Mensekind, die mense wat in Jerusalem agtergebly het, jou eie mense, praat oor hulle familie wat in ballingskap is. Hulle sê: ‘Hulle is ver weg van die Here, en nou het Hy hulle grond vir ons gegee!’
16 Daarom moet jy sê: So sê die oppermagtige Here: Alhoewel Ek julle in ballingskap in al die lande van die wêreld verstrooi het, sal Ek in die tyd wat julle ballinge is, ’n heiligdom vir julle wees.
17 Jy moet sê: So sê die oppermagtige Here: Ek maak hierdie mense bymekaar tussen die nasies en versamel hulle uit die lande waarheen Ek hulle verstrooi het. En Ek gee die land Israel vir hulle terug.
18 “En as hulle terugkom na hulle eie land, sal hulle al die walglike dinge en elke verfoeilike beeld verwyder.
19 En Ek sal hulle harte verander en hulle gees nuut maak. Ek sal die harte van klip wegneem en vir hulle sagte harte in die plek daarvan gee.
20 Dan sal hulle my opdragte en wette gehoorsaam. En hulle sal my volk wees, en Ek sal hulle God wees.
21 Maar dié wat na walglike dinge en verfoeilike beelde verlang, sal Ek straf vir hulle sondes, sê die oppermagtige Here.”
22 Die gerubs het toe hulle vlerke gelig en met die wiele langs hulle opgestyg. Die heerlikheid van die God van Israel het oor hulle gehang.
23 Toe het die heerlikheid van die Here uit die stad opgestyg en bokant die berg aan die oostekant van die stad gaan staan.
24 Hierna het die Gees van God my na die ballinge in Babilon teruggeneem. Dit was die gesig wat ek gesien het.
25 En ek het die ballinge alles vertel wat die Here vir my gewys het.