1 Baie jare later, in die tyd toe koning Artasasta van Persië regeer het, het Esra op die toneel verskyn. Hy was die seun van Seraja, die seun van Asarja, seun van Gilkija,
2 seun van Sallum, seun van Sadok, seun van Agitub,
3 seun van Amarja, seun van Asarja, seun van Merajot,
4 seun van Seragja, seun van Ussi, seun van Bukki,
5 seun van Abisua, seun van Pinehas, seun van Eleasar, seun van Aäron die hoëpriester.
6 Esra het uit Babel gekom en was ’n geleerde man. Hy het baie goeie kennis gehad van die gebooie van Moses wat die Here, die God van Israel, vir hom gegee het. Die koning het alles wat hy wou hê vir hom gegee, want die hand van die Here sy God was op hom.
7 In die sewende jaar van koning Artasasta se regering, het van die mense van Israel saam met hom na Jerusalem toe gegaan. Onder hulle was priesters, Leviete, sangers, hekwagte en tempelwerkers.
8 Esra het in Augustus van daardie jaar in Jerusalem aangekom.
9 Esra het Babel op 8 April verlaat en op 4 Augustus in Jerusalem aangekom, want sy God het hom beskerm.
10 Dit het gebeur omdat Esra besluit het om die gebooie van die Here te bestudeer en toe te pas. Hy wou die reëls en regulasies vir die mense van Israel leer.
11 Hier volg ’n afskrif van koning Artasasta se brief aan Esra. Esra was ’n priester en ’n skrifkenner wat die voorskrifte en bepalings van die Here vir Israel uitgelê het:
12 “Van: Artasasta, die koning van die konings. Aan: Die priester Esra, die kenner van die wet van die God van die hemel. Groete.
13 “Ek verklaar dat enige van die mense van Israel wat in my ryk is, priesters en Leviete ingesluit, mag kies om saam met jou na Jerusalem toe terug te keer.
14 Ek en my raad van sewe gee jou opdrag om ondersoek in te stel na omstandighede in Juda en Jerusalem. Doen dit aan die hand van die voorskrifte van jou God wat in jou besit is.
15 Ek as koning en my raadgewers gee jou ook opdrag om silwer en goud saam met jou te vat. Ons gee dit as ’n vrywillige bydrae aan die God van Israel wat in Jerusalem woon.
16 “Neem ook al die silwer en goud wat jy in die provinsie Babilonië in die hande kan kry. Verder ook die vrywillige offers wat die mense van die land en die priesters vir die tempel van hulle God in Jerusalem gee.
17 Gebruik hierdie bydraes uitsluitlik om bulle, ramme, lammers en die nodige graanoffers en drankoffers te koop. Dit is vir alles wat julle op die altaar van die tempel van God in Jerusalem gaan offer.
18 Die goud en die silwer wat oorbly, mag jy en jou mense gebruik soos julle goeddink volgens die wil van julle God.
19 Maar die voorwerpe wat ons aan jou gegee het vir diens in die tempel van jou God, moet jy net so vir die God van Jerusalem gaan gee.
20 As jy nog iets nodig het vir die tempel van jou God en geld kortkom, mag jy dit uit die koninklike fondse vat.
21 “Ek, koning Artasasta, gee die volgende opdrag aan al die amptenare van die tesourie in die provinsie wes van die Eufraatrivier: ‘Julle moet vir Esra alles gee wat hy julle vra, want hy is ’n priester en kenner van die bevele van die God van die hemel.
22 Hy mag tot soveel as drie en ’n half ton silwer, sestien en ’n half ton graan, 2 200 liter wyn, 2 200 liter olyfolie en ’n onbeperkte voorraad sout aanvra.
23 Julle moet enigiets wat die God van die hemel vir sy tempel vereis, voorsien. Daar is geen rede waarom ons die risiko moet loop om sy woede teen die ryk van die koning en van sy nageslag te laat ontvlam nie.
24 Ek gee ook opdrag dat geen priester, Leviet, sanger, deurwag, tempelwerker of enige werker in hierdie tempel van God verplig mag word om enige belasting te betaal nie.’
25 “En jy, Esra, moet met die wysheid wat God jou gegee het, amptenare en regters aanstel oor die mense van die provinsie wes van die Eufraatrivier. Hulle moet die wette van jou God ken. As hulle hierdie wette nie ken nie, moet jy dit vir hulle leer.
26 Enigiemand wat nie die wet van jou God of die wet van die koning gehoorsaam nie, moet julle dadelik straf met die dood, verbanning, konfiskering van besittings of tronkstraf.”
27 Loof die Here, die God van ons voorouers wat die koning laat besluit het om op hierdie manier eer te bring aan die tempel van die Here in Jerusalem.
28 Hy het met sy troue liefde gesorg dat ek die agting van die koning, sy raadgewers en sy sleutelamptenare geniet! Ek het moed geskep toe ek besef dat ek die hulp van die Here my God het. Toe het ek van die leiers van Israel byeengebring om saam met my na Jerusalem toe terug te gaan.