Genesis 21 NLV

Die geboorte van Isak

1 Die Here het vir Sara gesorg en sy belofte aan haar nagekom.

2 Sara het swanger geword en vir Abraham in sy ouderdom ’n seun gegee. Dit het gebeur op die bestemde tyd soos God beloof het.

3 Abraham het sy seun Isak genoem.

4 Agt dae ná Isak se geboorte het Abraham hom besny soos God hom beveel het.

5 Abraham was toe 100 jaar oud.

6 Sara het gejuig: “God het my laat lag van vreugde! Almal wat dit hoor, sal saam met my lag.

7 Wie sou ooit vir Abraham sê: Sara sal seuns borsvoed? Tog het ek op sy oudag vir Abraham ’n seun gegee!”

Hagar en Ismael word

weggestuur

8 Isak het groter geword en die dag toe hy gespeen is, het Abraham ’n groot fees gereël om die geleentheid te vier.

9 Maar toe Sara opmerk hoe die seun van Abraham en Hagar vir Isak staan en lag,

10 het sy by Abraham aangedring: “Raak ontslae van die slavin en haar seun! Ek sal nie toelaat dat hy, die seun van ’n slavin, die erfporsie met my seun, Isak, deel nie!”

11 Dit het Abraham hewig ontstel, want Ismael was tog ook sy seun.

12 Maar God sê vir Abraham: “Moenie oor die seun en jou slavin ontsteld word nie. Doen soos Sara vra, want uit Isak sal jou nageslag voortgesit word.

13 Ek sal egter ook die nageslag van Hagar se seun tot ’n groot nasie maak, want hy is jou seun.”

14 Die volgende oggend het Abraham vroeg opgestaan. Hy het padkos voorberei en ’n velsak met water oor Hagar se skouers gehang. Toe stuur hy haar en hulle seun weg. Sy het doelloos in die wildernis van Berseba rondgedwaal.

15 Toe die water op was, het sy die seun in die koelte van ’n bos gelos.

16 Sy self het ’n entjie daarvandaan gaan sit, so ver as wat ’n mens met ’n pyl en boog kan skiet. “Ek wil nie sien hoe my seun sterf nie,” het sy in trane gesê.

17 Maar God het die seun hoor huil. Toe roep die engel van God vir Hagar uit die hemel: “Hagar, wat is verkeerd? Moenie bang wees nie! God het die seun gehoor huil daar waar hy onder die bos lê.

18 Gaan na hom toe en vertroos hom, want Ek gaan sy nageslag ’n groot nasie maak.”

19 Toe maak God Hagar se oë oop en sy sien ’n put met water. Sy het haar watersak vol gemaak en vir die seun water gegee om te drink.

20 God was met die seun. Hy het in die Paranwoestyn grootgeword en ’n knap boogskutter geword.

21 Sy ma het gesorg dat hy later met ’n Egiptiese meisie trou.

’n Verdrag met Abimelek

22 Omstreeks hierdie tyd kom Abimelek en Pikol, die bevelvoerder van sy leër, op besoek by Abraham. “Dit is baie duidelik dat God jou help in alles wat jy doen,” sê Abimelek.

23 “Belowe my met ’n eed in God se Naam dat jy nie oneerlik teenoor my sal optree nie, ook nie teenoor my kinders of my kleinkinders nie. Ek was lojaal aan jou; belowe nou dat jy ook aan my en hierdie land lojaal sal wees solank jy lewe.”

24 Abraham antwoord hom: “Nou goed, ek belowe!”

25 Hy het egter by Abimelek beswaar gemaak oor ’n waterput wat Abimelek se slawe met geweld van hom afgeneem het.

26 “Dis die eerste keer dat ek hiervan hoor,” sê Abimelek. “Ek het nie die vaagste benul wie dit gedoen het nie. Hoekom het jy my nie al eerder gesê nie?”

27 Abraham gee toe kleinvee en beeste vir Abimelek en hulle sluit ’n ooreenkoms met mekaar.

28 Maar toe Abraham nog sewe ooilammers eenkant sit,

29 vra Abimelek: “Wat doen jy nou met die ooilammers?”

30 Abraham antwoord: “Neem dit. Dis ’n sigbare teken dat jy erken dat ek hierdie put gegrawe het.”

31 Sedert dié voorval staan die put bekend as Berseba, die put van die eed, want dis waar hulle ’n eed teenoor mekaar afgelê het.

32 Ná die sluiting van die ooreenkoms, het Abimelek en Pikol, die bevelvoerder van sy leër, teruggegaan na hulle tuiste in die land van die Filistyne.

33 Abraham plant toe ’n tamarisk by Berseba en het die Here, die ewige God, daar aanbid.

34 Abraham het nog vir ’n lang tyd in die land van die Filistyne gewoon.

hoofstukke

1 2 3 4 5 6 7 8 9 10 11 12 13 14 15 16 17 18 19 20 21 22 23 24 25 26 27 28 29 30 31 32 33 34 35 36 37 38 39 40 41 42 43 44 45 46 47 48 49 50