13 Intussen het die hongersnood al hoe erger geword. Die mense van Egipte en Kanaän het swaar daaronder gely.
14 Josef het baie geld ingesamel in ruil vir graan. Hy het die geld na die farao se skatkamers gebring.
15 Toe die geld van die mense van Egipte en Kanaän op was, het hulle kom pleit vir kos: “Ons geld is op,” het hulle gekla. “Gee ons asseblief kos om te eet. Hoekom moet ons dan sterf?”
16 “Aangesien julle geld op is,” sê Josef, “moet julle vee gee in ruil vir kos.”
17 Hulle het toe hulle vee gegee. In ruil vir hulle perde, kleinvee, grootvee en donkies kon hulle minstens genoeg kos kry vir daardie jaar.
18 Die volgende jaar kom hulle weer en sê: “Ons kan dit nie vir u wegsteek nie: Ons geld is op en ons lewende hawe behoort nou ook aan u. Ons het niks meer oor nie as net onsself en ons landerye.
19 Hoekom moet ons hier voor u oë doodgaan? Koop ons en ons landerye in ruil vir kos. Ons sal dan Farao se slawe word. Gee tog asseblief net vir ons saad sodat ons nie van honger doodgaan en die grond nie onbewerk lê nie.”