Joël 1 NLV

1 Joël was die seun van Petuel. Hy het die volgende boodskap van die Here ontvang.

Treur oor die sprinkaanplaag!

2 Luister, leiers van die volk! Ook al julle inwoners van die land, luister hierna! Het so iets al vantevore in julle geskiedenis gebeur?

3 Vertel dit vir julle kinders en julle kleinkinders en hulle weer vir geslagte wat nog kom.

4 Snysprinkane het die oes kom opvreet. Wat oorgebly het, het die swerm sprinkane verder verorber. Ná hulle het die jong sprinkane gekom, en wat hulle nog oor gelos het, het nog ’n swerm kom opvreet!

5 Word wakker, al julle dronklappe! Huil! Al julle druiwe is tot niet, julle nuwe wyn is vir julle verlore!

6 ’n Verskriklike groot en magtige nasie het my land ingeval. Die nasie se tande is so skerp soos dié van leeus!

7 Hulle het my wingerde en vyebome vernietig. Hulle het die bas afgetrek en die wit, kaalgestroopte takke weggegooi.

8 Treur soos ’n jong meisie wat huil oor die dood van haar bruidegom.

9 Daar is nie graan of wyn om by die tempel van die Here te offer nie. Die priesters wat diens doen vir die Here treur daaroor.

10 Die weiding is verwoes, die aarde in ’n jammerlike toestand. Die koring, die wyn en die olywe is alles tot niet.

11 Gee moed op, julle saaiboere! Kla, wynboere! Die koring en die gars – om die waarheid te sê, die hele oes – is vernietig.

12 Die wingerde en die vyebome het verdroog en verdor. Die granaatbome, palmbome en die appelbome, al die vrugtebome het verdroog. Alle blydskap het daarmee saam verdwyn.

13 Trek rouklere aan en treur, priesters! Huil, julle wat diens doen by die altaar! Julle wat in diens van my God is, kom met julle rouklere aan en bring die nag hier deur! Daar is nie graan of wyn om te offer by die tempel van julle God nie.

14 Kondig ’n vasdag aan. Roep die gemeente saam. Bring die leiers en al die inwoners van die land by die tempel van die Here julle God bymekaar. Roep tot die Here!

15 Die Dag van die Here is naby. Op dié dag sal die Almagtige verwoesting bring. O, wat ’n verskriklike dag!

16 Ons het toegekyk terwyl ons kos voor ons oë verdwyn. Blydskap en vreugde het uit die huis van ons God verdwyn.

17 Niks kom van die saad onder die kluite nie. Die skure en die meule staan leeg en verlate, want die koringoes het misluk.

18 Hoe bulk die beeste nie van die honger nie! Die vee maal verward rond, want daar is geen weiding meer vir hulle nie. Selfs die troppe skape ly onder die straf.

19 Here, ons God, help ons! Vuur het al ons weiding verbrand en die bome in die veld verskroei.

20 Selfs die wilde diere roep na U omdat hulle nie water het om te drink nie. Die stroompies het opgedroog en vuur het die weiding in die woestyn verteer.

hoofstukke

1 2 3