17 Die priesters wat in diens is van die Here moet tussen die voorportaal en die altaar gaan staan en huil. Hulle moet bid: “Here, spaar u volk! Hulle behoort aan U. Moenie toelaat dat ander met hulle die spot dryf nie. Moenie toelaat dat nasies slagspreuke oor hulle maak nie. Waarom moet die volke onder mekaar sê: ‘Waar is die God van Israel?’”
18 Dan sal die Here wys dat Hy omgee vir sy land en Hy sal sy volk jammer kry.
19 Hy sal hulle antwoord en sê: “Kyk, Ek stuur vir julle koring, wyn en olyfolie. Dit sal aan julle behoeftes voldoen. Julle sal nie langer ’n voorwerp van spot onder die nasies wees nie.
20 Ek sal hierdie leërs uit die noorde verwyder en hulle ver weg stuur. Ek sal hulle verdryf na ’n droë en onherbergsame land toe. Dié op die voorhoede sal in die Dooie See beland, en dié op die agterhoede in die Middellandse See. Die stank van hulle lyke sal oor die land versprei.” Die Here het inderdaad groot dinge gedoen!
21 Julle moenie bang wees nie, my volk! Wees bly en verheug julle, want die Here het groot dinge gedoen!
22 Moenie bang wees nie, diere van die veld! Binnekort sal die weiding groen wees. Die bome sal weer vol vrugte wees. Die vyebome en wingerde sal weer volop vrugte dra.
23 Wees bly, inwoners van Jerusalem! Juig oor die Here julle God! Die reën wat Hy stuur, is ’n bewys van sy genade. Die herfsreëns en die lentereëns sal weer oorvloedig wees soos voorheen.