1 Die Israeliete het weggetrek en in die vlakte van Moab gaan kamp opslaan. Dit is oos van die Jordaan, reg teenoor Jerigo.
2 Balak, die seun van Sippor, was koning van die Moabiete. Hy het gehoor wat die Israeliete alles met die Amoriete gedoen het.
3 Toe hy sien hoe baie Israeliete daar is, het hy en sy volk vir hulle bang geword.
4 Balak, koning van die Moabiete, het vir die leiers van die Midianiete gesê: “Hulle sal alles rondom ons verteer soos ’n bees die gras in die veld wegvreet.”
5 Hy het boodskappers na Bileam, die seun van Beor, gestuur. Bileam het by Petor langs die Eufraatrivier gebly in die land waarvandaan Balak kom. Hy het hom laat roep: “’n Volk het uit Egipte getrek. Hulle maak die hele aarde vol. Hulle het hulle reg teenoor my kom vestig.
6 Kom tog en vervloek hierdie volk vir my. Hulle is sterker as ek. Miskien kan ek hulle dan oorwin en uit die land verdryf. Ek weet as jy iemand seën, is hulle geseën en as jy hulle vervloek, is hulle vervloek.”
7 Die leiers van Moab en die leiers van Midian is toe daar weg met geld vir ’n voorspelling. Hulle het by Bileam gekom en Balak se woorde aan hom oorgedra.
8 Hy het vir hulle gesê: “Bly vannag hier oor. Ek sal vir julle môre sê wat die Here sê.” Hulle het toe by hom oornag.
9 Daardie nag het die Here na Bileam gekom. Hy het hom gevra: “Wie is hierdie mans hier by jou?”
10 Hy het vir Hom gesê: “Sippor se seun, Balak, die koning van Moab, het hulle na my toe gestuur met die boodskap:
11 ‘’n Volk het uit Egipte getrek. Hulle is die land vol. Hulle het hulle reg teenoor my kom vestig. Kom tog en vervloek hierdie volk vir my. Miskien kan ek hulle dan oorwin en uit die land verdryf.’”
12 “Moenie saam met hulle gaan nie,” het God vir Bileam gesê. “Jy mag die volk nie vervloek nie. Ek het hulle geseën.”
13 Vroeg die volgende oggend het Bileam opgestaan en vir die amptenare van Balak gesê: “Gaan terug na julle land toe. Die Here het vir my gesê ek mag nie saam met julle gaan nie.”
14 Hulle is terug Moab toe en het vir Balak gesê: “Bileam weier om saam met ons te kom.”
15 Balak het toe weer probeer. Hy het hierdie keer belangriker amptenare as die eerste keer na Bileam toe gestuur.
16 Hulle is na Bileam toe en het vir hom gesê: “So sê Balak, die seun van Sippor: ‘Moenie dat iets jou terughou om na my toe te kom nie.
17 Ek sal jou deeglik vergoed. Ek sal vir jou gee net wat jy vra. Kom tog nou en kom vervloek hierdie volk vir my.’”
18 Bileam het Balak se amptenare geantwoord: “Selfs al gee Balak vir my sy hele paleis vol silwer en goud, kan ek niks meer of minder doen as wat die Here my God vir my beveel het nie.
19 Julle moet ook ’n nag hier oorbly. Laat ek hoor of die Here nie nog iets verder het om vir my te sê nie.”
20 Daardie nag het die Here na Bileam toe gekom en vir hom gesê: “Hierdie mans het jou kom ontbied. Gaan dan nou saam met hulle. Jy mag egter net doen wat Ek vir jou sê.”
21 Bileam het die volgende oggend opgestaan, sy donkie ingespan en saam met die amptenare van Moab gegaan.
22 Die Here het kwaad geword omdat hy gegaan het. Die Here het ’n engel gestuur om hom langs die pad voor te keer. Bileam het op sy donkie gery. Daar was twee bediendes saam met hom.
23 Bileam se donkie het die engel van die Here voor hom in die pad sien staan met ’n swaard in sy hand. Die donkie het uit die pad weggedraai en deur die veld gaan loop. Bileam het die donkie geslaan om hom na die pad toe terug te dwing.
24 Die engel het toe in ’n smal opening tussen twee wingerdmure gaan staan.
25 Toe die donkie die engel van die Here sien staan, het hy teenaan die muur probeer verbyskuur. Bileam se voet is teen die muur vasgedruk. Bileam het hom toe weer geslaan.
26 Die engel van die Here het toe op ’n ander plek gaan staan waar dit so nou is dat daar nie plek is om links of regs verby te gaan nie.
27 Toe die donkie weer die engel van die Here sien staan, het dit onder Bileam gaan lê. Bileam was woedend. Hy het die donkie met ’n stok geslaan.
28 Die Here het toe die donkie laat praat. “Wat het ek aan jou gedoen dat jy my nou al drie keer geslaan het?” vra die donkie vir Bileam.
29 Bileam sê vir die donkie: “Jy maak my belaglik. As ek ’n swaard gehad het, het ek jou nou doodgemaak.”
30 “Ek is dan jou donkie waarop jy nog altyd gery het,” sê die donkie. “Is dit hoe ek altyd met jou maak?” “Nee,” sê Bileam.
31 Toe het die Here Bileam se oë laat oopgaan. Hy sien toe die engel van die Here in die pad staan met die swaard in sy hand. Hy het toe vooroor op die grond geval.
32 “Hoekom het jy die donkie nou al drie keer geslaan?” vra die engel van die Here vir hom. “Ek het gekom om jou voor te keer, want jy is op die verkeerde pad.
33 Die donkie het my gesien en drie keer al probeer wegdraai. Drie keer kon ek jou al doodgemaak het en die donkie laat bly leef het.”
34 Bileam bely toe voor die engel van die Here: “Ek het ’n fout gemaak. Ek het nie gesien u staan voor my in die pad nie. As dit vir u verkeerd is dat ek gaan, sal ek liewer omdraai.”
35 Die engel van die Here sê vir Bileam: “Gaan tog nou saam met die mans. Maar net wat ek vir jou voorsê, mag jy ook sê.” Bileam het toe saam met die amptenare gegaan.
36 Toe Balak hoor dat Bileam op pad is, het hy gegaan om hom te ontmoet by ’n Moabitiese stad op die grens van sy gebied, in die omgewing van die Arnonrivier.
37 Balak het vir Bileam gevra: “Ek het jou dan dringend ontbied om na my toe te kom. Hoekom het jy nie dadelik gekom nie? Glo jy dan nie dat ek jou kan beloon nie?”
38 Bileam sê vir Balak: “Ek het dan nou gekom. Ek kan net sê wat God my laat sê.”
39 Bileam is toe saam met Balak na Kirjat-Gusot toe.
40 Balak het beeste en skape geslag. Hy het vir Bileam en die amptenare wat by hom was daarvandaan gestuur.
41 Die volgende oggend het Balak vir Bileam saam met hom na Bamot-Baäl gevat. Van daar af kon hy sien tot waar die volk staan.