11 Verder het Samuel aan Ísai gevra: Is dit al die seuns? En hy sê: Die kleinste is nog oor, en kyk, hy pas skape op. Toe sê Samuel aan Ísai: Stuur en laat hom haal, want ons mag nie om die tafel gaan sit voordat hy hier kom nie.
12 Daarop het hy gestuur en hom laat kom; en hy was rooierig, met mooi oë en ’n mooi voorkoms. En die Here sê: Staan op, salf hom, want dit is hy.
13 Samuel neem toe die horing met olie en salf hom te midde van sy broers, en die Gees van die Here het van dié dag af en verder oor Dawid vaardig geword. En Samuel het klaargemaak en na Rama gegaan.
14 MAAR die Gees van die Here het van Saul gewyk, en ’n bose gees, deur die Here gestuur, het hom verskrik.
15 Toe sê die dienaars van Saul vir hom: Kyk tog, ’n bose gees van God verskrik u:
16 laat ons heer net sê, en u dienaars wat voor u staan, sal ’n man soek wat op die siter kan speel; en as die bose gees van God oor u is, moet hy speel met sy hand, dan sal dit beter met u word.
17 Daarop sê Saul aan sy dienaars: Kyk tog vir my uit na ’n man wat goed kan speel, en bring hom na my.