8 Toe roep Ísai Abinádab en laat hom voor Samuel verbygaan. Maar hy sê: Hierdie een het die Here ook nie uitgekies nie.
9 Verder het Ísai Samma laat verbygaan. Maar hy sê: Hierdie een het die Here ook nie uitgekies nie.
10 So het Ísai dan sy sewe seuns voor Samuel laat verbygaan, maar Samuel het aan Ísai gesê: Die Here het hulle nie uitgekies nie.
11 Verder het Samuel aan Ísai gevra: Is dit al die seuns? En hy sê: Die kleinste is nog oor, en kyk, hy pas skape op. Toe sê Samuel aan Ísai: Stuur en laat hom haal, want ons mag nie om die tafel gaan sit voordat hy hier kom nie.
12 Daarop het hy gestuur en hom laat kom; en hy was rooierig, met mooi oë en ’n mooi voorkoms. En die Here sê: Staan op, salf hom, want dit is hy.
13 Samuel neem toe die horing met olie en salf hom te midde van sy broers, en die Gees van die Here het van dié dag af en verder oor Dawid vaardig geword. En Samuel het klaargemaak en na Rama gegaan.
14 MAAR die Gees van die Here het van Saul gewyk, en ’n bose gees, deur die Here gestuur, het hom verskrik.