5 En Ek sal Rabba ’n weiveld maak vir kamele en die kinders van Ammon ’n lêplek vir kleinvee, en julle sal weet dat Ek die Here is.
6 Want so sê die Here Here: Omdat jy in die hand geklap en met die voet gestamp het en bly was met volle veragting in die siel oor die land van Israel —
7 daarom, kyk, Ek strek my hand teen jou uit en gee jou as buit vir die nasies, en Ek sal jou uitroei uit die volke en jou uit die lande verdelg; Ek sal jou vernietig, en jy sal weet dat Ek die Here is.
8 SO spreek die Here Here: Omdat Moab en Seïr sê: Kyk, die huis van Juda is soos al die nasies —
9 daarom, kyk, Ek maak die berghange van Moab oop, dat dit sonder stede is, sonder sy stede in sy hele gebied, die sieraad van die land: Bet-Jésimot, Baäl-Méon en tot Kirjatáim toe;
10 aan die kinders van die Ooste sal Ek dit, saam met die kinders van Ammon, as besitting gee, sodat die kinders van Ammon nie meer genoem sal word onder die nasies nie.
11 Ek sal ook in Moab strafgerigte voltrek; en hulle sal weet dat Ek die Here is.