14 Daarom, profeteer, o mensekind, en sê aan Gog: So spreek die Here Here: Sal jy dit nie opmerk in dié dag as my volk Israel veilig woon nie?
15 Dan sal jy kom uit jou woonplek, uit die agterhoeke van die Noorde, jy en baie volke saam met jou wat almal op perde ry, ’n groot menigte en ’n magtige leër;
16 en jy sal optrek teen my volk Israel soos ’n wolk om die land te oordek. Aan die einde van die dae sal dit wees — dan sal Ek jou teen my land laat aankom, sodat die nasies My kan ken as Ek My in jou, o Gog, voor hulle oë as die Heilige laat ken.
17 So sê die Here Here: Is jy dit van wie Ek in die voortyd gespreek het deur my knegte, die profete van Israel, wat in dié dae geprofeteer het, jare lank, dat Ek jou teen hulle sal laat aankom?
18 Maar in dié dag, die dag as Gog teen die land van Israel aankom, spreek die Here Here, sal my grimmigheid in my neus opkom.
19 Ja, in my ywer spreek Ek, in die vuur van my grimmigheid: Waarlik, in dié dag sal daar ’n groot aardbewing wees in die land van Israel,
20 sodat van my aangesig af weg sal bewe die visse van die see en die voëls van die hemel en die wilde diere van die veld en al die gedierte wat op die grond kruip, en al die mense wat op die aarde is; en die berge sal omvergegooi word en die kranse inmekaarstort en al die mure op die aarde val.