11 En in dié dag sal Ek aan Gog ’n plek gee waar ’n graf sal wees in Israel, die dal van die trekkers aan die oostekant van die see, en dit sal vir die deurtrekkers die pad toemaak; en daar sal hulle Gog begrawe en sy hele menigte en dit noem: Die dal van Gog se menigte.
12 En die huis van Israel sal hulle begrawe om die land te reinig, sewe maande lank.
13 En al die mense van die land sal begrawe, en dit sal hulle roem wees, die dag as Ek My verheerlik, spreek die Here Here.
14 Ook sal hulle vaste manne afsonder wat die land deurgaan en die trekkers begrawe wat bo-op die grond oorgebly het, om dit te reinig. Aan die einde van sewe maande sal hulle ’n ondersoek instel,
15 en sien een van hulle wat deur die land trek, ’n mensebeen, dan rig hy daarby ’n merkteken op, totdat die begrawers dit begrawe het in die dal van Gog se menigte.
16 En ook sal die naam van ’n stad wees Hamóna. So sal hulle dan die land reinig.
17 En jy, mensekind, so spreek die Here Here: Sê vir die voëls van allerhande vere en vir al die wilde diere van die veld: Kom bymekaar en kom aan, versamel julle van alle kante by my slagoffer wat Ek vir julle slag, ’n groot slagoffer op die berge van Israel; en eet vlees en drink bloed!