2 Kronieke 28:9-15 AFR83

9 Daar was in Samaria 'n profeet van die Here met die naam Oded. Hy het die leër wat in Samaria teruggekom het, voorgestaan en vir hulle gesê: “In sy toorn teen Juda het die Here, die God van julle voorvaders, hulle in julle mag gegee, en julle het onder hulle 'n slagting aangerig met 'n woede wat ten hemel skrei.

10 Nou sê julle julle wil van dié mense van Juda en Jerusalem julle slawe en slavinne maak. Maar julle, is alles wat julle doen nie ook misdade teen die Here julle God nie?

11 Luister nou en vat die gevangenes wat julle uit julle broedervolk weggevoer het, terug, want die toorn van die Here hang oor julle.”

12 'n Paar van die leiers van die Efraimiete, Asarja seun van Joganan, Berekja seun van Mesillemot, Hiskia seun van Sallu, en Amasa seun van Gadlai, het toe kant gekies teen dié wat van die oorlog af teruggekom het

13 en vir hulle gesê: “Julle bring nie die gevangenes hier in nie. Wat julle wil doen, is 'n misdaad teen die Here en sal ons sondes en misdade teen Hom groter maak. Dit is alreeds groot, en sy toorn hang oor Israel.”

14 Die manskappe het toe afstand gedoen van die gevangenes en die buit, met die leiers en die hele volk as getuies.

15 Die manne wie se name genoem is, het toe die gevangenes onder hulle sorg geneem. Hulle het uit die buit klere geneem vir almal wat nie klere gehad het nie, die gevangenes voorsien van klere, skoene, kos en water, salf aan hulle wonde gesmeer, almal wat nie kon loop nie, op donkies gehelp en hulle weggebring na Jerigo die palmstad toe, by hulle volksgenote. Daarna is die manne terug Samaria toe.