1 Die Here het toe vir Moses gesê: “Met nog een plaag sal Ek die farao en Egipte tref, en dan sal hy julle hiervandaan laat gaan. Ja, hy sal julle onvoorwaardelik laat trek; hy sal julle selfs wegjaag hiervandaan.
2 Gaan sê vir die volk elke man en vrou moet silwer- en goue goed van hulle Egiptiese bure eis.”
3 Die Here het gesorg dat die Egiptenaars aan sy volk goed doen, en boonop het Moses groot aansien onder die Egiptenaars geniet, by die amptenare en die volk.
4 Toe sê Moses vir die farao: “So sê die Here: Teen middernag sal Ek deur Egipte gaan,
5 en elke eersgeborene in Egipte sal sterwe, van die kroonprins af, die eersgeborene van die farao, tot by die eersgeborene van die slavin wat koring maal, ja, selfs al die eerstelinge van die diere.
6 In die hele Egipte sal daar so gehuil en gerou word soos nog nooit tevore nie en ook nie later nie.
7 Maar onder die Israeliete sal niemand iets oorkom nie, nie 'n mens of 'n dier nie.“Dan sal julle besef dat die Here 'n verskil maak tussen Egiptenaar en Israeliet.
8 Al hierdie amptenare van u sal voor my kom buig en vra: ‘Jy en jou hele volk moet asseblief trek.’ Dan sal ek trek.”Moses is toe woedend van die farao af weg.
9 Daarna het die Here vir Moses gesê: “Die farao luister nie na julle nie sodat my wonders in Egipte nog meer kan word.”
10 Moses en Aäron het al hierdie wonders voor die farao gedoen, maar die Here het die farao koppig gemaak, sodat hy die Israeliete nie uit sy land wou laat trek nie.