Eksodus 29 AFR83

Die wyding van Aäron en sy seuns as priesters

1 “Jy moet vir Aäron en sy seuns soos volg wy om My te dien as priesters: vat 'n bul en twee ramme, almal sonder liggaamsgebrek,

2 brood sonder suurdeeg, ringbrood sonder suurdeeg, geknie met olie, en roosterkoeke sonder suurdeeg, met olie gesmeer. Jy moet dit van koringmeel maak.

3 “Sit dit in 'n mandjie en bring die mandjie, die bul en die twee ramme na die heiligdom toe.

4 Laat Aäron en sy seuns na die deur van die tent van ontmoeting toe kom, en was hulle met water.

5 “Vat die klere en trek vir Aäron die priesterklere, die skouerkleed, die mantel wat saam met die skouerkleed gedra word, en die borssak aan. Maak die skouerkleed vas met die gordel.

6 Bind die tulband om sy kop en sit die gewyde priesterkroon op die tulband.

7 Vat olie en salf hom deur dit op sy kop uit te giet.

8 “Net so moet jy sy seuns laat naderkom en vir hulle ook priesterklere laat aantrek.

9 Bind die serpe om Aäron en sy seuns en bind die kopdoeke vir hulle vas. Die priesterskap moet vir hulle 'n blywende amp wees.“Jy moet vir Aäron en sy seuns soos volg wy:

10 bring die bul tot voor die tent van ontmoeting. Dan moet Aäron en sy seuns hulle hande op die bul se kop sit.

11 Slag dan die bul by die deur van die tent van ontmoeting in my teenwoordigheid.

12 Vat van die bul se bloed en smeer dit met jou vingers aan die horings van die altaar. Gooi dan die bloed aan die voet van die altaar uit.

13 Vat al die vet wat oor die binnegoed is, die punt van die lewer, die twee niere en die niervet en verbrand dit op die altaar.

14 Jy moet die bul se vleis, vel en pensmis buite die kamp verbrand. Dit is 'n sondeoffer.

15 “Vat dan die een ram en laat Aäron en sy seuns hulle hande op sy kop sit.

16 Slag die ram, vat sy bloed en sprinkel dit oral op die altaar.

17 Sny die ram op in stukke, was sy binnegoed en pootjies en sit dit neer by die stukke vleis en die kop.

18 Verbrand dan die hele ram op die altaar. Dit is 'n brandoffer vir My, die Here, 'n vuuroffer wat Ek met graagte aanvaar.

19 “Vat die ander ram en laat Aäron en sy seuns hulle hande op sy kop sit.

20 Slag die ram en vat van sy bloed en smeer dit aan die regteroorlelle van Aäron en sy seuns, ook aan hulle regterduime en regtergroottone. Sprinkel dan die bloed oral op die altaar.

21 Vat van die bloed op die altaar en van die salfolie en sprinkel dit op Aäron en sy klere, en op sy seuns en hulle klere. Dan sal hy en sy klere, en sy seuns en hulle klere gewy wees.

22 Vat die ram waarmee Aäron en sy seuns gewy word, se vet, die vetstert, die vet wat oor die binnegoed is, die punt van die lewer, die twee niertjies, die niervet en die regterboud,

23 asook 'n ringbrood, 'n oliekoek en 'n roosterkoek uit die mandjie wat jy na die heiligdom toe gebring het,

24 en sit dit alles op Aäron en sy seuns se hande dat hulle dit heen en weer beweeg as 'n beweegoffer vir My, die Here.

25 Vat dit dan uit hulle hande en verbrand dit op die altaar as 'n brandoffer, 'n vuuroffer wat Ek met graagte aanvaar.

26 Vat die bors van die ram wat gebruik is vir Aäron se wyding, en beweeg dit heen en weer as beweegoffer voor My. Daarna kan jy dit vir jou vat.

27 Die ram waarmee Aäron en sy seuns gewy is, se bors wat as beweegoffer beweeg is, en die boud wat as offergawe aangebied is, moet opsy gesit word vir Aäron en sy seuns.

28 Dit is 'n blywende reëling vir die Israeliete dat Aäron en sy seuns hierdie deel kry. Dit is 'n offergawe en sal altyd 'n offergawe van die Israeliete wees. Hulle offergawe vir die Here moet uit hulle maaltydoffers geneem word.

29 “Die gewyde klere van Aäron moet na sy dood gebruik word om sy opvolgers daarin te salf en as priesters te wy.

30 Aäron se seun wat hom as priester opvolg en in die tent van ontmoeting ingaan om in die heiligdom diens te doen, moet die klere sewe dae aanhou.

31 “Vat die ram wat vir die wyding gebruik is, en kook die res van sy vleis in 'n plek wat gewy is

32 sodat Aäron en sy seuns die vleis by die deur van die tent van ontmoeting kan eet saam met die brood in die mandjie.

33 Hulle moet die offer eet waarmee vir hulle versoening gedoen is by hulle wyding en reiniging. 'n Persoon wat nie priester is nie, mag nie daarvan eet nie, want dit is gewyd.

34 As daar die volgende môre gewyde vleis en brood oor is, moet jy dit verbrand. Dit mag dan nie meer geëet word nie, want dit is gewyd.

35 Jy moet met Aäron en sy seuns doen presies soos Ek jou beveel het. Jy moet hulle sewe dae lank as priesters wy.

36 Elke dag moet jy 'n bul as sondeoffer offer. Jy moet die altaar deur jou versoeningsoffer reinig en dit salf om dit te wy.

37 Sewe dae lank moet jy 'n versoeningsoffer op die altaar bring en dit wy. Dan sal die altaar besonder gewyd wees en alles wat daaraan raak, sal ook gewyd wees.”

Die daaglikse offers

38 “Jy moet die volgende op die altaar offer: elke dag twee jaaroud lammers,

39 een in die môre en een in die aand.

40 Saam met die eerste lam moet jy een en 'n half kilogram fynmeel offer, gemeng met een liter suiwer olie en een liter wyn.

41 Die tweede lam moet jy teen die aand offer met dieselfde offer van meel, olie en wyn daarby as in die oggend. Dit moet 'n vuuroffer wees wat Ek met graagte aanvaar.

42 “Julle nakomelinge moet altyd 'n brandoffer vir My bring by die deur van die tent van ontmoeting. Dit is waar Ek julle sal ontmoet en met jou sal praat.

43 Dáár sal Ek die Israeliete ontmoet en daar sal hulle geheilig word deur my magtige teenwoordigheid.

44 Ek sal die tent van ontmoeting en die altaar heilig en ook vir Aäron en sy seuns om My as priesters te dien.

45 Ek sal tussen die Israeliete woon en hulle God wees.

46 So sal hulle besef dat Ek, die Here, hulle God is wat hulle uit Egipte bevry het om tussen hulle te woon. Ek is die Here hulle God!”

hoofstukke

1 2 3 4 5 6 7 8 9 10 11 12 13 14 15 16 17 18 19 20 21 22 23 24 25 26 27 28 29 30 31 32 33 34 35 36 37 38 39 40