2 “Wanneer jy 'n Hebreeuse slaaf koop, moet hy ses jaar vir jou werk, maar in die sewende jaar moet jy hom vrylaat sonder dat hy jou iets daarvoor betaal.
3 As hy alleen was toe hy jou slaaf geword het, moet hy alleen vrygelaat word. As hy toe getroud was, moet sy vrou saam met hom vrygelaat word.
4 As sy eienaar vir hom 'n vrou gegee het, en sy vir hom seuns of dogters in die wêreld gebring het, behoort die vrou en haar kinders aan die eienaar, en dan hoef net die slaaf vrygelaat te word.
5 As die slaaf egter uitdruklik sou sê: ‘Ek is lief vir my eienaar en vir my vrou en my kinders.
6 Ek wil nie vrygelaat word nie,’ moet sy eienaar hom in die teenwoordigheid van God bring, by die heiligdom se deur of kosyn, en daar moet die eienaar 'n gaatjie in sy slaaf se oor steek met 'n els. Dan is hy vir altyd sy eienaar se slaaf.
7 “Wanneer 'n man sy dogter as slavin verkoop, mag sy nie gewoonweg soos ander slawe vrygelaat word nie.
8 As haar eienaar wat haar as sy vrou wou hê, later nie meer van haar hou nie, moet hy toelaat dat sy deur haar eie mense losgekoop word. Hy het nie die reg om haar aan vreemde mense te verkoop nie, want dan pleeg hy troubreuk teenoor haar.