13 Tog het die farao koppig gebly en nie aan hulle versoek gehoor gegee nie, net soos die Here vooraf gesê het.
14 Die Here het vir Moses gesê: “Die farao bly onversetlik, hy hou aan weier om die volk te laat trek.
15 Gaan môre vroeg na die farao toe; hy sal juis op pad wees water toe. Gaan wag vir hom langs die Nyl, met die kierie wat in 'n slang verander het, in jou hand.
16 Sê dan vir hom: ‘Die Here die God van die Hebreërs het my na jou toe gestuur met die opdrag dat jy my volk moet laat gaan om My in die woestyn te dien, maar tot nou toe het jy nie gehoor gegee nie.
17 So sê die Here: Deur wat nou gaan volg, sal jy weet dat Ek die Here is.’ Jy moet ook vir die farao sê: Met hierdie kierie in my hand sal ek op die Nyl se water slaan, en dit sal in bloed verander.
18 Dan sal die vis in die Nyl vrek, en dit sal so stink dat die Egiptenaars nie die water sal kan drink nie.”
19 Verder sê die Here vir Moses: “Sê vir Aäron: Vat jou kierie en swaai dit oor al die water van Egipte, oor sy kanale, riviere, moerasse en damme, dat dit bloed kan word. Daar sal bloed wees in die hele Egipte, selfs in die hout- en klipbakke.”