15 Die Here my God, die Almagtige, het vir my gesê: Gaan na daardie hoë amptenaar, na Sebna toe, wat in beheer is van die paleis, en sê vir hom:
16 Wat maak jy hier? Wie dink jy is jy dat jy hier vir jou 'n graf bou, 'n graf hier teen die hoogte soos dié van 'n koning, soos een wat vir hom 'n blyplek in die rots gereed maak?
17 Die Here sal jou weggooi, Hy sal jou ver weggooi, jou verwaande vent, en jou behoorlik toepak!
18 Hy sal jou styf toerol soos 'n mens 'n mummie toerol en jou weggooi in 'n groot land. Dáár sal jy sterf, daar by jou strydwaens waarmee jy so spog, jy wat 'n skande is vir jou koning!
19 Die Here sal jou uit jou amp ontslaan, Hy sal jou wegvat uit die plek waar jy in diens is.
20 Dan sal Ek my dienaar Eljakim seun van Gilkija roep, sê die Here,
21 Ek sal jou ampskleed vir hom aantrek, jou serp vir hom omhang en die gesag wat jy nou het, vir hom gee. Hý sal vir die mense van Jerusalem en vir die inwoners van Juda 'n vader wees.