19 Julle is blind! Wat is die belangrikste: die offer of die altaar wat die offer gewyd maak?
20 Iemand wat iets belowe en sê die altaar is sy getuie, belowe dit en sê die altaar en alles daarop is sy getuie.
21 En iemand wat iets belowe en sê die tempel is sy getuie, belowe dit en sê die tempel en God wat in die tempel woon, is sy getuie.
22 En iemand wat iets belowe en sê die hemel is sy getuie, belowe dit en sê die troon van God en God wat op die troon sit, is sy getuie.
23 “Dit sal sleg gaan met julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, julle is skynheilige mense. Want julle gee tiendes, ook van kruisement, anys en koljander, maar julle doen nie die belangrikste dinge wat die wette van God vra nie. Die belangrikste dinge is: Julle moet reg doen aan mense, julle moet goed wees vir mense en julle moet doen wat julle belowe het. Hierdie dinge moet julle doen en julle moenie ophou om tiendes te gee nie.
24 Julle is blindes wat vir ander blindes wil wys waar hulle moet loop. Julle is soos mense wat water deur ’n doek gooi sodat hulle nie ’n klein muggie sal insluk nie, maar hulle sluk ’n kameel in.
25 “Dit sal sleg gaan met julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, julle wat skynheilige mense is. Julle maak die buitekant van julle bekers en borde skoon, maar julle het alles gevat wat in die bekers en op die borde is, julle het dit van ander mense gevat omdat julle net vir julleself wil sorg.