1 Die Here het vir Moses gesê: “Ek sal die farao en die Egiptenaars nog een maal straf. Daarna sal die farao julle uit Egipte laat gaan. Hy sal sê julle mag gaan, maar hy sal nog meer doen, hy sal julle wegjaag. Dit is seker.
2 Sê vir die Israeliete elke man en elke vrou moet silwergoed en goue goed vra vir hulle Egiptiese bure.”
3 Die Egiptenaars was baie vriendelik met die Israeliete. Die Here het hulle vriendelik gemaak. Al die Egiptenaars het gedink Moses is ’n baie belangrike man. Al die amptenare en al die mense het so gedink.
4 Moses het vir die farao gesê: “Die Here sê: ‘Ek sal in die middel van die nag deur Egipte gaan.
5 Die oudste seun in elke familie in Egipte sal sterf. Die farao se oudste seun en ook die oudste seun van die slavin wat by die maalklip koring maal, almal sal sterf.“ ‘Ook al die bul-kalwers en die ram-lammers wat eerste gebore is, sal vrek.
6 Die Egiptenaars sal baie huil. Hulle het nog nooit so baie gehuil nie, en hulle sal ook nooit weer so baie huil nie.
7 Maar dit sal nie gebeur by die Israeliete nie. Nie ’n mens of ’n dier sal sterf nie. Dan sal julle weet dat Ek, die Here, nie met die Israeliete doen soos Ek met die Egiptenaars doen nie.’ ”
8 Moses het ook vir die farao gesê: “Al jou amptenare sal na my toe kom en hulle sal voor my buig en sê ek moet weggaan, ek en al die mense wat saam met my wil gaan. Daarna sal ek weggaan.”Moses was baie kwaad. Hy was woedend en hy het weggegaan van die farao.
9 Die Here het vir Moses gesê: “Die farao sal nie na julle luister nie, maar dan sal Ek nog meer wonderwerke in Egipte kan doen.”
10 Moses en Aäron het al hierdie wonderwerke voor die farao gedoen, maar die Here het die farao hardkoppig gemaak. Hy het nie die Israeliete uit sy land laat gaan nie.