1 Die Here het vir Moses gesê:
2 “Sê vir die Israeliete hulle moet omdraai en hulle moet hulle tente opslaan by Pi-Hagirot, tussen Migdol en die see. Hulle moet by Baäl-Sefon hulle tente opslaan by die see.
3 Dan sal die farao dink die Israeliete het in die woestyn verdwaal.
4 Ek sal die farao hardkoppig maak en hy sal die Israeliete volg en jaag. Ek sal die farao en al sy soldate oorwin en doodmaak. Dan sal die Egiptenaars weet dat Ek die Here is.”Die Israeliete het toe gedoen soos Moses vir hulle gesê het.
5 Die koning van Egipte, die farao, het gehoor dat die Israeliete gevlug het. Hy en sy amptenare het toe gesê: “Ons het ’n fout gemaak. Ons het die Israeliete laat gaan, en nou is hulle nie meer ons slawe nie.”
6 Die farao het toe die perde voor sy oorlogkar ingespan en hy het sy soldate saam met hom geneem.
7 Hy het 600 goeie oorlogkarre geneem, al die oorlogkarre van Egipte. Daar was drie manne op elke oorlogkar.
8 Die Here het die farao, die koning van Egipte, hardkoppig gemaak. Hy het die Israeliete gevolg en gejaag, maar die Here het die Israeliete beskerm toe hulle weggegaan het.
9 Die Egiptenaars het die Israeliete gevolg en gejaag. Die manne op die farao se oorlogkarre en sy soldate het tot by die Israeliete gekom. Die Israeliete se kamp was by die see, by Pi-Hagirot naby Baäl-Sefon.
10 Toe die farao nader kom, het die Israeliete gesien dat die Egiptenaars hulle volg en jaag, en hulle het baie bang geword. Hulle het tot die Here gebid en hulle het Hom gevra om hulle te help.
11 Maar vir Móses het hulle gesê: “Daar was baie plek in Egipte waar die mense ons kon begrawe. Hoekom het jy ons daar weggevat om in die woestyn dood te gaan? Wat het jy aan ons gedoen? Hoekom het jy ons uit Egipte gebring?
12 Ons het vir jou in Egipte gesê jy moet ons los sodat ons die Egiptenaars se slawe kan wees. Dit is vir ons beter om hulle slawe te wees, beter as om in die woestyn dood te gaan.”
13 Maar Moses het vir die Israeliete gesê: “Moenie bang wees nie. Bly waar julle is. Julle sal vandag sien dat die Here julle sal red. Julle sien vandag die Egiptenaars, maar julle sal hulle nooit weer sien nie.
14 Die Here sal self oorlog maak en Hy sal vir julle veg teen die Egiptenaars. Julle moet stil wees.”
15 Die Here het vir Moses gesê: “Hoekom bid jy tot My en vra dat Ek julle moet help? Sê vir die Israeliete hulle moet aanhou loop.
16 En jy, tel jou kierie op en hou jou hand oor die see. Dan sal daar ’n pad deur die see wees sodat die Israeliete op die grond deur die see kan gaan.
17 Ek sal die Egiptenaars hardkoppig maak. Hulle sal julle deur die see volg. Dan sal Ek wys dat Ek die God is wat kan doen wat Ek wil doen met die farao en al sy soldate en met sy oorlogkarre en die manne daarop.
18 Wanneer Ek dit doen, dan sal die Egiptenaars weet dat Ek die Here is.”
19 Die Engel van die Here was altyd voor die Israeliete, maar Hy het nou agter hulle gaan staan.
20 Die wolk was toe tussen die Egiptenaars en die Israeliete. Die wolk was donker by die Egiptenaars maar by die Israeliete het die wolk in die nag lig gegee. Die Egiptenaars en die Israeliete kon daardie nag nie naby mekaar kom nie.
21 Moses het sy hand oor die see gehou, en die Here het ’n sterk oostewind gestuur. Die wind het die hele nag gewaai en die water weggestoot. Daar was ’n pad deur die see.
22 Die Israeliete het op die grond deur die see gegaan. Die water was vir hulle soos ’n muur langs hulle regter-kant en langs hulle linker-kant.
23 Die Egiptenaars het die Israeliete gevolg tot binne-in die see. Al die farao se perde en sy oorlogkarre en die manne daarop het in die see ingegaan.
24 Vroeg die volgende oggend het die Here uit die vuur en die wolk afgekyk na die Egiptenaars se soldate. Hy het die soldate baie bang laat word.
25 Hy het die oorlogkarre se wiele laat uitval sodat die karre nie vorentoe kon beweeg nie. Toe sê die Egiptenaars: “Ons moet wegvlug van die Israeliete, want die Here veg vir hulle teen ons.”
26 Die Here sê toe vir Moses: “Hou jou hand weer oor die see. Dan sal die water terugkom oor die Egiptenaars, oor hulle oorlogkarre en oor die manne daarop.”
27 Moses het sy hand na die see toe gehou, en toe dit die volgende oggend begin lig word, het die see teruggespoel soos dit voorheen was. Die Egiptenaars wou weghardloop, maar die water het oor hulle gespoel. So het die Here die Egiptenaars in die see laat verdrink.
28 Die water het teruggekom, en die see het die oorlogkarre toegemaak, dit het ook die manne daarop en al die soldate van die farao toegemaak, almal wat die Israeliete gevolg het in die see in. Nie een van hulle het oorgebly nie.
29 Die Israeliete het op die grond deur die see gegaan. Die water was vir hulle soos ’n muur langs hulle regter-kant en langs hulle linker-kant.
30 Die Here het die Israeliete daardie dag gered van die Egiptenaars. Die Israeliete het gesien dat die Egiptenaars dood lê langs die see.
31 Die Israeliete het gesien dat die Here kan doen wat Hy wil doen. Hy het die Egiptenaars doodgemaak. Die Israeliete het bang geword vir die Here en hulle het Hom gerespekteer. Hulle het geglo in die Here en in sy dienaar Moses.